Gestrand in SA: Regsaksie begin teen regering

(Foto: HomeAwayFromHome, Facebook)

Die HomeAwayFromHome-inisiatief (HAFH) het Vrydagoggend hofdokumente by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien teen die Suid-Afrikaanse regering wat nie toelaat dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, kan terugkeer nie.

Dié groep voer aan dat die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners om vrylik die land te kan verlaat en vrylik in die buiteland te kan werk, geskend word deur hulle ongrondwetlik “aan te hou”.

Die Suid-Afrikaners wat die land wil verlaat, beskik wel oor die nodige dokumentasie en het ook die nodige toestemming van hul werkgewers en die buitelandse ambassades om te mag terugkeer na die lande waar hulle woon en werk.

Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking en ook een van die stigterslede van die HAFH-inisiatief, het gesê al dié Suid-Afrikaners woon of werk reeds geruime tyd in die buiteland of was op die punt om te emigreer en het reeds al hul dokumente daarvoor gereed gehad.

HAFH het ongeveer twee weke gelede die Locked in South Africa (Lisa)-veldtog van stapel gestuur om die sowat 3 500 Suid-Afrikaners wat in die land gestrand sit te help en te ondersteun om terug te keer na die lande waar hulle woon en werk. Dié Suid-Afrikaners is bereid om op hul eie koste die land te verlaat.

Beverley Schäfer, DA-LPW in die Wes-Kaap asook een van die koördineerders van die HAFH-inisiatief, sê luidens die regulasies word Suid-Afrikaanse burgers nie toegelaat om ten tyde van afsondering die land te verlaat nie. Persone met dubbele burgerskap, buitelandse burgers, persone wat met buitelanders getroud is asook persone wat permanente wonings oorsee het, word wel toegelaat om die land te verlaat.

“Wat vir my verbysterend is, is hoe iemand met dubbele burgerskap die land kan verlaat, maar nie burgers met wettige Suid-Afrikaanse paspoorte wat oor geldige werkspermitte beskik nie,” sê Schäfer. Sy meen die regering het nie die regulasies en die gevolge daarvan deurdink nie.

Schäfer sê die organiseerders van HAFH se Lisa-projek het reeds twee weke gelede ’n brief aan die regering gerig om dié Suid-Afrikaners dringend te help om terug te keer na die lande waar hulle woon en werk. Nadat die organiseerders geen reaksie gekry het nie, het hulle ’n week later weer ’n dokument uitgestuur om duidelikheid oor die regulasies te kry wat hierdie Suid-Afrikaners teen hul wil in die land hou.

“Toe ons weer eens geen reaksie van die regering kry nie, het ons besef om die drastiese stap te doen en die hof te nader,” het Schäfer gesê.

Schäfer sê hulle hoop om voor volgende Woensdag terugvoer van die regering te kry. Meeste werkers vrees dat hulle hul betrekkings gaan verloor as hulle nie voor Junie terugkeer nie omdat meeste se kontrakte op 1 Junie verstryk.

Volgens Schäfer is verlies aan inkomste van byna R16 miljoen die afgelope maand aangemeld van Suid-Afrikaners wat in die land gestrand sit omdat hulle nie kon werk nie.

Die groep gestrande burgers ervaar geweldige sielkundige en ekonomiese stres en is desperaat om terug te gaan na die lande waar hul woon en werk. Party kry ook al die afgelope twee maande geen inkomste nie en begin finansieel swaar trek en moet vir hul gesinne sorg. Benewens die verlies aan inkomste is van dié gestrande burgers boonop tans van hul gesinne geskei.

Die werkers wat gestrand sit sluit in plaaswerkers wat op plase in die VSA werk, onderwysers in Asië, Suid-Afrikaanse burgers wat permanent in ander lande woon, vlieëniers, seevaarders en werkers wat in Afrika op olie- en gasmyne werk.

Daar is sowat 700 Suid-Afrikaners van Europa, 166 van Hongkong en 200 van Nieu-Seeland wat tans in Suid-Afrika gestrand sit. Omtrent 350 Suid-Afrikaners wat in Asië woon en werk sit ook gestrand. Meeste van hierdie Suid-Afrikaners is onderwysers van Asië wat vir die vakansie na Suid-Afrika teruggekeer het om by hul gesinne te kom kuier.

Aileen Swan, ’n HAFH-verteenwoordiger vir die gestrande burgers van Asië, sê die onderwysers se nuwe kwartaal begin op 1 Junie en hulle moet voor dan terugkeer anders verstryk hul kontrakte moontlik.

Kristin Harmuth, ’n kommersiële seevaarder, sê omtrent 500 seevaarders sit in Suid-Afrika gestrand en kan nie tans werk nie. Harmuth sê dié seevaarders kan moontlik vervang word indien hulle nie nou kan terugkeer na hul onderskeie skepe nie.

Talle Suid-Afrikaners wat in skofte in Afrika by olie- en gasmyne werk kan ook nie teruggaan vir hul volgende skof nie. Meer as 3 000 boere wat tans in Suid-Afrika is, kan nie by hul plase in ander Afrika-lande uitkom nie.

Maroela Media het vroeër berig net meer as 1 000 Suid-Afrikaners wat reg oor die VSA op plase werk, maar tans in Suid-Afrika gestrand is, kan maande lank al geen salaris verdien nie. ’n Groot groep van hierdie plaaswerkers sou voor die instel van die afsondering na die VSA vertrek, maar die vlugte is gestaak.

Die plantseisoen in die VSA het aangebreek en die plaashulp is nou broodnodig daar.

Bergman het gesê hulle het Donderdag ’n vergadering met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en die departement van binnelandse sake gehad oor die regulasies wat die Suid-Afrikaners verhoed om die land te verlaat.

“Albei departemente verstaan die pleidooie van dié Suid-Afrikaners en probeer help om die nodige wetgewing te kry wat nodig is om die Suid-Afrikaners te laat gaan,” sê Bergman.

Hy het gesê dit maak meer sin vir die ekonomie om hierdie Suid-Afrikaners te laat gaan. “Só word die las van die regering verlig deurdat daar meer werksgeleenthede vir die Suid-Afrikaners hier gaan wees. Die Suid-Afrikaners wat oorsee werk, bring ook dan tog geld in vir die land,” sê Bergman.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

andre ·

Ja. En die spul wat in China was wat op hul koste daar gekom het en toe moet belasting betalers opdok om hul te gaan haal .die spul tjank ook om terug te gaan..

Jaco ·

baie vreemd dat ons regering wat wit mense amper HAAT, nou wit mense hier hou. ek wens ons regering will eerder sommer al ons wit mense na Europa, Amerika en Australie deporteer.

marius ·

Waarom sal hulle die sports wil mis om wittes te sien krepeer ?

Kobus ·

Geensins verbysterend nie, as jy burgerskap het mag die bepaalde buiteland jou nie toegang verbied nie, terwyl as jy slegs oor n paspoort en werkspermit beskik, jy geen reg het om toegang af te dwing nie, die bepaalde buiteland kan jou toegang verbied, soos wat talle tans doen om die verspreiding van die virus te bekamp, een voorbeeld is die grense wat tans toe is tussen die VSA en Kanada.

Jorika ·

Ek is getroud met n buitelander en het hom begin van Maart laas gesien. My vliegkaart word oor en oor uitgestel en ek is moedeloos gesukkel. Geen ondersteuning nie.

Deon ·

Lyk my die regering kan nie somme maak nie… Hier is mos nou ngeleentheid om geld in te kry.

Sarel ·

Verstaan niechierdie een nie. Ons hoor nou al.hoeblank van Suid-Afrikaners gestrand in die Buitekand….nou hierdie ouens is tuis maar wil uit en word hier gehou teen hulle sin? Wat wil die mense hê? ZEish…

Matt ·

More. Ek en my familie moet ook dringend na Zambia vir werk gaan. Is daar n lys waarop my naam sal bydrae help.?

Ok-Hoe meer van ons wat wil weg, hoe minder stress op die land se Gesondheids Diens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.