Gestrande jong SA’ners in China kry dán paspoorte

Van die jongmense wat in China gestrand is. Foto: Verskaf

Die 51 jong Suid-Afrikaners wat in Tsjangtsjoen in China vasgekeer is en strafregtelik ondersoek word nadat hul paspoorte weens foutiewe visums deur die polisie afgeneem is, sal glo Maandag hul paspoorte terugkry.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê die groep sal na verwagting volgende week na Suid-Afrika terugkeer.

Sisulu het Chinese owerhede Vrydag in ʼn verklaring bedank nadat die owerhede met Suid-Afrika ooreengekom het om die groep se paspoorte weer aan hulle terug te besorg en toe te laat om die land te verlaat.

“Ek is dankbaar dat hierdie voorval opgelos is,” sê sy. “Ek wil ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners doen dat hulle hulself eers moet vergewis van die wette en regulasies van die lande wat hulle besoek of aansoek doen om werk. Reisigers moet ook seker maak dat hulle die regte reisdokumente het voordat hulle na die buiteland gaan.”

Sy sê die departement van internasionale betrekkinge en samewerking beoog om binnekort ʼn veldtog van stapel te stuur wat juis bewusmaking oor dié kwessie gaan bewerkstellig. Die veldtog sal “Travel smart” heet.

“Daar is te veel Suid-Afrikaners in tronke oor die hele wêreld en dit is ʼn bekommernis,” sê sy. “Ons wil hê Suid-Afrikaners moet weet hoe belangrik dit is om deeglik navorsing te doen voordat hulle reis om op só ʼn manier te verhoed dat hulle hulself betrek by aktiwiteite wat ander lande as onwettig beskou.”

Minister Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS/Flickr

ʼn Beampte van die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing sal glo Maandag na Tsjangtsjoen reis om konsulêre bystand aan die groep te bied.

Volgens dié ambassade in Beijing is die 51 jong Suid-Afrikaners deur ʼn agent gelok om na China te reis met ʼn studievisum en as Engels-onderwysers te werk. Hulle is glo onder die indruk gebring dat hulle hul werkvisums sou ontvang sodra hulle in China aankom, maar dit het nie gebeur nie. Hulle het egter begin werk met die studievisums wat strydig is met China se immigrasiewette. Volgens inligting is al die jong mense onder 25 jaar oud en het die agent hul paspoorte afgeneem toe hulle in China aangekom het. Hulle is glo beveel om nié hul verblyfplek te verlaat nie en moes op R45 per dag oorleef.

Derduisende rande is in die afgelope week deur middel van ʼn skarefinansieringswebwerf vir die jeugdiges ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Eish ·

Ons is dankbaar dat die agbare minister so vinnig opgetree het en bystand verleen en uitkoms bewerkstellig het.

Tasmin ·

Amper soos ‘n onderwyser “sweat shop”? Bly hulle is gehelp, wat ‘n nare ondervinding.

Chris Ws ·

My swaer se seun het amper dieselfde stel afgetrap.Hy is deur ‘n agent na China om onderig in engels te gaan gee maar toe hy daar kom is die aget weg en sit hy sonder heenkome.Hy het 2 dae later terug gevlieg SA toe.
My raad aan Suid Afrikaners is bly weg uit China en bly weg van sogenaamde “agente” wat nie deur iemand anders aanbeveel is nie..Die meeste is skelms.(letwel nie almal nie!)
Die swaer van my se seun werk nou vir ‘n boer op sy plaas in Noord Dakota in die VSA sonder enige probleme en geniet hom gate uit.

china ·

As jy jou huiswerk doen en die regte prosedures volg, is daar geen rede hoekom jy nie in China kan werk nie. Ek is al lank in China en het nog nooit probleme gehad of gehoor van iemand wat probleme opgetel het nie. Dis n veilige land en dis redelik maklik om werk te kry, mits jy aan kwalifikasie vereistes voldoen. Bygese, daar word tans strenger opgetree juis om die kansvatters uit te hou en ek ondersteun dit volkome, want hulle maak dit net moeiliker vir almal.

Vra-maar-net ·

Is dit Engelse onderwysers OF Engels -onderwysers? Jammer as dit klink na harekloof, maar dit klink maar krapperig vir my.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Vra-maar-net
Dankie vir jou kommentaar! Jy is heeltemal reg – die akkurate manier om na die onderwysers te verwys is inderdaad Engels-onderwysers. Die artikel is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Diesekfde ondervinding ·

Ek sou ook graag wou weet wie die agent is.
Ek het dieselfde stel afgetrap met `n werkspermit in Ierland wat heeltemal bedrog was,
Die agent is egter vrygespreek in die hof nadat hy beweer het dis nie sy eie agentskap nie, maar dat hy slegs `n werknemer is van die werkgewer oorsee.
Die saak het 8 jaar geneem om op die hofrol te kom !

Laurie ·

Hoe kan ‘n persoon van 19 jaar oud ‘n gekwalifiseerde onderwyser wees ?

china ·

Dis onmoontlik. Mens moet n graad, TEFL sertifikaat en twee jaar onderwys ondervinding he om as onderwyser in China te werk.

SjN ·

Valse beloftes deur die agentskap, slegs gegradueerdes sal toegelaat word om werkspermit te kry om Engels te gee in China, hulle word gelok met vakansie visums wat nie aanvaar word nie.

jaco ·

Die minister se party kan sommer ook regstellende aksie in SA minder rigied en streng maak. Dan hoef ons mense mos nie in China te gaan werk nie.

Dorothea ·

Minister Sisulu gee asseblief vir ons wit kinders werk in ons geboorte land. Ons is ook trotse Suid-Afrikaners. Stop regstellende aksie. Ons kan werk!

Von ·

Dorothea stem 100% saam ons kinders raak moedeloos want in SA sukkel hulle om werk te kry ….. neem dan die tipe risikos. So hartseer

Ria ·

Dis makliker vir immegtante om werk in SA te kry as wat dit vir ons self is, hulle kom vat ons werks geleenthede uit ons hande uit, hulle wette is so streng dat ons as wit Suid Afrikaners nog meer moet suffer
Maak julle wette en grens poste ook oop soos SA en gun almal n ou plekkie onder die son.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.