Gestrande SA’ners mag terugkeer, sê Mbalula

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Gestrande Suid-Afrikaners mag gedurende die algehele landwye afsondering na Suid-Afrika terugkeer.

Só het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Dinsdag gedurende ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê. Alhoewel alle plaaslike en internasionale passasiersvlugte gedurende die algehele afsondering verbied word, mag vlugte wel bedryf word om Suid-Afrikaners vanuit die buiteland te repatrieer of buitelanders vanuit Suid-Afrika na hul tuislande te repatrieer.

Bemanningslede wat Suid-Afrikaners huis toe bring, mag nie in Suid-Afrika van die vliegtuig afklim nie. Suid-Afrikaners wat terugkeer, sal met hul aankoms 21 dae lank in kwarantyn moet bly.

Lande wat hul burgers vanuit Suid-Afrika wil repatrieer mag ʼn vliegtuig met slegs bemanning na Suid-Afrika stuur. Die bemanningslede sal ook nie toegelaat word om van die vliegtuig af te klim nie.

Tegniese vlugte word ook gedurende die afsondering toegelaat. Dit sluit vlugte in wat noodverligting na Suid-Afrika bring, vliegtuie wat in nood verkeer asook vliegtuie wat oor Suid-Afrika vlieg en moet land om brandstof aan te vul. Bemanningslede sal in dié gevalle ook nie toegelaat word om van die vliegtuig af te klim nie.

Mediese ontruimings word ook gedurende die volgende drie weke toegelaat. Slegs bemanningslede en pasiënte word egter op dié vlugte toegelaat.

Volgens Mbalula sal Suid-Afrikaners gedurende die afsondering na Suid-Afrika kan terugkeer mits hulle ʼn betaalde vliegtuigkaartjie het en bereid is om getoets en in kwarantyn geplaas te word.

Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge, het gesê die departement van internasionale betrekkinge weet van sowat 1 471 Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland gestrand is weens die afsondering. Dit sluit diegene in wat in die buiteland werk [204], 723 studente wat in die buiteland studeer en 224 persone wat vakansie in die buiteland gehou het.

Pandor het gesê diegene wat tans op ʼn lughawe gestrand is sonder enige verblyf of kos sal nou geprioritiseer word om na Suid-Afrika gerepatrieer te word. Van diegene wat kan bekostig om op eie onkoste terug te keer, word gevra om dit te doen.

Diegene wat egter nié gestrand is nie, word aangeraai om te bly waar hulle is totdat die afsondering gelig is. Pandor doen intussen ʼn beroep op ander lande om diegene, wat in ander lande gestrand is weens die afsondering, se visums te verleng of die nodige permitte uit te reik.

Lees hier meer oor Suid-Afrikaners wat in ander lande gestrand is en met wie Maroela Media die afgelope paar dae gesels het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

antieke antie ·

seker net ‘our people’ wat vakansie hotel toe gaan…

netekalleen ·

Wat my verbyster, mense moet self hulle kaartjies koop om huistoe te kan kom,hoekom is daar dan miljoene rande spandeer om die mense uit China huistoe te bring. Baie is al vir weke gestrand en het al hulle fondse reeds opgebruik…. So wat nou ???

antieke antie ·

ek daai was ‘our people’ wat ingevoer is uit china want die ‘vakansie hotel’ is mos iemand se pel en moes geld uit die regering kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.