Gestrande SA’ners oorsee vertel hoe dit met hulle gaan

Mense in Engeland het kos aan die gestrande Suid-Afirkaners verskaf (Foto verskaf)

ʼn Bietjie goeie nuus vir honderde Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is as gevolg van SA se staat van isolasie en reisverbod, asook hulle families, is dat daar talle mense agter die skerms onverpoosd aan die werk is om hulle terug in die land te kry.

Daarby het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Dinsdag gedurende ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê hoewel alle plaaslike en internasionale passasiersvlugte verban word gedurende die tyd van algehele afsondering, mag vlugte wel bedryf word om Suid-Afrikaners vanuit die buiteland te repatrieer of buitelanders vanuit Suid-Afrika na hul tuislande te repatrieer. Suid-Afrikaners wat terugkeer, sal wel 21 dae in kwarantyn moet bly. Lees meer hieroor.

Maroela Media het op 25 Maart berig oor sowat 30 Suid-Afrikaners wat in Marokko gestrand is, en daarna op 27 Maart oor ʼn groep van sowat 150 Suid-Afrikaanse burgers wat in Londen wag op hulp om huis toe te keer. Intussen het talle ander Suid-Afrikaners in die buiteland van hulle laat hoor. Ten spyte van die desperate situasie waarin baie van hierdie Suid-Afrikaners hulle bevind, word daar ook mooi stories vertel oor hoe daar in die buiteland deur wildvreemdelinge na hulle omgesien word.

Suid-Afrikaners in Phuket

Adele Lombaard vertel dat hulle al op Saterdag, 28 Maart met Qatar Airways van Phuket via Doha na Suid-Afrika moes terugvlieg.

“Die oomblik toe Cyril Ramaphosa die tyd van isolasie aankondig, het ek, my man en my 11-jarige dogtertjie ander vliegtuigkaartjies begin soek, maar sonder sukses. Ons vlug is intussen gekanselleer en nou is ons in Patong Beach in Phuket gestrand. Ons moes addisionele verblyf vir ten minste 21 dae ten duurste bekom. Patong Beach is in totale isolasie. Geen winkels is oop nie, net sommige supermarkte en apteke,” sê sy.

Sy sê daar is sprake dat die lughawe op 10 April gaan sluit.

“Hier is baie Suid-Afrikaners saam met ons in Phuket gestrand. Die trauma vir veral ons 11-jarige dogtertjie is kommerwekkend. Ons het hulp nodig,” pleit sy.

Lombaard sê hulle het by ʼn WhatsApp-groep aangesluit wat direkte kontak het met Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, om inligting oor hul probleem te bekom en met ander in soortgelyke posisies te deel. Bergman bevestig dat hulle al meer as 1 000 name het van mense wat na Suid-Afrika wil terugkeer.

Hy het Mbalula se aankondiging dat Suid-Afrikaners nou na SA sal kan terugkeer verwelkom.

“Dis waarvoor ons so hard geveg het,” het Bergman aan Maroela Media gesê. “Ons hoop nou net hierdie plan om burgers te repatrieer, akkommodeer almal – ryk, arm, jonk oud, ook mense wat nie finansies het vir kaartjies nie en wat nou skielik ʼn kaartjie moet koop. Ons is dankbaar en positief oor die aankondiging, en vertrou en hoop nou dat die regering so ver as moontlik daaraan sal kan uitvoering kan gee.

“Dit is ’n projek wat strek oor grense van ras en geloof, en dit ken geen politiek nie. Ons veg teen ’n gesamentlike vyand, die Covid-19-virus, en ons ondersteun die president. Ons glo dat hy die gees waarin hierdie veldtog gedryf word, in die regte lig sien,” het Bergman bygevoeg.

Gestrand in Mexiko

Bennie Robinson, ’n bekende in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf wat onder meer die a capella- sanggroep Romanz bestuur het, is die afgelope vyf maande die vermaaklikheidsbestuurder op die Westerdam, ’n groot passasierskip van die Holland America Line.

“Ons was letterlik die eerste passasierskip wat deur die koronavirus geraak is. Ons het in die hartjie van Asië gevaar toe die ding sy kop begin uitsteek. Tans lê ons geanker in Mexiko by Porto Vallarta met ’n hele paar skepe om ons. Omdat die grense tussen Mexiko en die VSA nog gesluit is, is, is ons basies gestrand. Ons kan nie aan land gaan nie en die skepe maak beurte om te gaan vasmeer sodat hulle diesel en voorrade kan kry.

“Ons is ongeveer 10 Suid-Afrikaners op die boot en is tans alleen hier saam met die bemanning van 630. Ons gaan waarskynlik nog tot 15 April hier wees voordat ons dan moontlik afgelaat gaan word. Hierdie situasie mag dalk tot die einde van Mei voortduur,” het Robinson gesê.

Suid-Afrikaners in Italië

Lourens Campher se ouers, dr. Roelof en Malinda Campher, is tans in Hotel Roma in Tuscalona, Italië nadat hulle eers uit Rome en later uit Civitavecchia verskuif is.

Hy vertel sy ouers se probleme het begin toe altesaam 168 Suid-Afrikaners wat op die Costa Pacifica vanaf Suid-Amerika na Spanje getoer het.

“Hul eerste probleem was toe Spanje sy landsgrense gesluit het en hulle nie in Barcelona aan wal kon gaan nie. Op Maandag 23 Maart het omtrent al die Suid-Afrikaners [148] die boot verlaat om terug te keer. ’n Paar [20] het egter in die slag gebly omdat hul name nie op die lys was nie.”

Campher vertel dat sy ouers telkens oor die hoof gesien is as mense die land verlaat het, totdat 15 van die groep oorgebly het.

“Die groep sou op 25 Maart via Rome na Londen en dan na Suid-Afrika gevlieg word, maar omdat hulle nie Britse visums gehad het nie, kon hulle nie die vlug meemaak nie. Die Italiaanse regering het intussen sy grense gesluit en nou is hulle steeds daar gestrand.

“My pa het bronchitis en moes dringend medikasie kry, maar hulle is nie toegelaat om die hotel te verlaat nie,” vertel Lourens. “Hy het genadiglik laat vandag laat weet hulle medisyne het aangekom, en Costa betaal daarvoor. Dis werklik baie goeie nuus.”

Onderwysers in Kambodja

Die 18-jarige Licois Coetzee van Pretoria is een van ʼn paar onderwysers wat te midde van die algehele afsondering in Kambodja gestrand sit. Coetzee sit tans werkloos in ʼn woonstel in Kambodja en hoop om gou weer haar geliefdes te sien.

Coetzee het verlede week Woensdag haar vlug verpas omdat sy haarself vooraf by ʼn dokter moes toets om te bevestig dat sy nie die virus onder lede het nie.

Coetzee het sowat twee maande gelede in Thailand ’n kursus gedoen om daarna Engels by ʼn skool in Kambodja te gee. Met haar reis na Kambodja minder as ʼn maand gelede, is haar kontrak by die skool gekanselleer omdat die skole toe reeds gesluit was as deel van regulasies deur die regering om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

“My ouers probeer maar vir my ʼn geldjie van Suid-Afrika stuur om kos te kan koop. Ons het darem werkende internet,” vertel Coetzee.

Kambodja het teen Dinsdag 107 bevestigde Covid-19-gevalle gehad, maar nog nie in ʼn algehele afsondering gegaan nie.

Coetzee sê dit is nie lekker om ver van haar geliefdes in ʼn vreemde land te sit nie. “Ek bekommer my oor my ouers as ek op die nuus sien hoe Suid-Afrika se aantal gevalle op ʼn daaglikse basis styg.”

Suid-Afrikaners in Brittanje

Bianca Koen (links) en Jandre van Wyk besig met hul skoolwerk terwyl hulle in Londen vasgevang sit weens die Covid-19-pandemie (Foto verskaf)

Ongeveer 135 Suid-Afrikaners is in Londen gestrand en word in groepe en een-een geakkommodeer by gesinne of in ander blyplek waar daar vir hulle voorsiening gemaak kon word, aangesien die meeste hotelle gesluit is.

Mirvin Diedericks is deel van ’n groep van 25 Suid-Afrikaners wat in Watford in Brittanje in ’n YMCA-blyplek gehuisves word. Hy het as ’n fiksheidsinstrukteur op ’n passasierskip, wat vanuit San Pedro in Los Angeles in die VSA bedryf is en wat die Hawaiiese eilande sou besoek, gewerk toe die pandemie ook sy omgewing getref het.

“Die maatskappy vir wie ons gewerk het (hulle bedryf nie die skip nie, net kontrakpersoneel), het aangedui dat ons huis toe sou gaan, waarskynlik omdat ons hulle geld gekos het vir die verblyf. Ons het hulle daarop gewys dat Suid-Afrika se grense reeds gesluit is, maar hulle het bloot laat weet dat dit nie hulle probleem is nie.

“Op die lughawe van LA is ons elkeen ’n Britse visum vir drie maande gegee om in die land te bly, en met ons aankoms in Londen is ons na die YMCA-huis geneem. Dit was nie ’n hotel nie en daar was ’n kennisgewing op die muur dat korona wel hier teenwoordig is, maar ons is bly om ’n dak oor ons kop te hê en iets te ete te kry,” het Diedericks gesê.

Bianca Koen is ook in Londen vasgekeer.

“Ons drie Suid-Afrikaners bly op die oomblik by ’n baie vriendelike familie in Dunstable wat aangebied het om ons te help. Ongeveer 135 Suid-Afrikaners is gestrand in Londen en word óf in groepe óf individueel geakkommodeer,” vertel sy.

“Die finansiële implikasies hiervan is vir ons almal ’n baie groot probleem, want nie net is die Rand op die oomblik baie swak nie – niemand van ons het ook voorberei vir hierdie bykomende uitgawes nie. Daar is van die groepe Suid-Afrikaners wat nie kos het nie. Hayley Reichert, ʼn Britse burger wat haar oor ons ontferm het, het ’n hele span mense bymekaar gekry om te help om na hierdie mense om te sien,” sê Bianca.

“Dit is baie koud hier, dit sneeu en dit is die meeste van die tyd bewolk, maar ons drie is goed versorg en dankbaar vir die mense by wie ons bly.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.