Gestrande seevaarders pleit om terug te kom

Elf Suid-Afrikaners is op skepe gestrand digby Venezuela (Foto: ANA)

Elf Suid-Afrikaners wat vir die United Offshore Support- (UOS-)skeepsredery werk, sit al vir die afgelope twee maande op die eilande Trinidad en Tobago by Venezuela op skepe gestrand. Dié groep gestrande Suid-Afrikaners kan nie terugkeer huis toe nie omdat die landsgrense en lughawens wêreldwyd gesluit is weens die Covid-19-pandemie.

ʼn 39-jarige seevaarder van Kaapstad, wat anoniem wou bly, sê al die bemanningslede sit op vyf skepe wat by dié eiland geanker is ten tyde van die afsondering. Hy sê die groep Suid-Afrikaners se kontraktyd het al verstryk en hulle moes lankal teruggekeer het huis toe.

Dié Suid-Afrikaner se vrou en sewejarige seun sit in Kaapstad en wag op sy terugkoms. Hy sê dit is hartverskeurend as sy sewejarige seun hom elke keer vra wanneer hy huis toe kom. “Ek moet elke keer verskonings soek oor wat om vir hom te sê, want in dié stadium het ek self nie antwoorde nie.”

Die Suid-Afrikaner sê die bemanningslede is geestelik en liggaamlik uitgeput en hulle voel vergete op die skepe.

Dié groep seevaarders het al met die regering in Suid-Afrika kontak gemaak en om hulp gevra. Hulle het nog geen antwoord gekry nie.

Die Suid-Afrikaner sê hulle wil graag in dié tyd ook steeds kan werk om ʼn inkomste te verdien om sodoende vir hul families in Suid-Afrika te kan sorg.

“Ek sou ʼn paar maande gelede nie kon dink dat ons in hierdie situasie sou wees nie. My grootste vrees as seevaarder is om my werk te verloor en dan nie meer vir my gesin te kan sorg nie,” vertel die Suid-Afrikaner. Hy sê werk is reeds skaars vir Suid-Afrikaanse seevaarders.

Cor Radings, woordvoerder van UOS, het bevestig dat dié 11 Suid-Afrikaners op die eiland gestrand is. Hy sê hulle doen alles in hul vermoë om hul werknemers terug huis toe te stuur.

“Sedert die virus soos ʼn veldbrand wêreldwyd versprei het, is skeepsrederye soos ons deur geweldige uitdagings in die gesig gestaar. Ons grootste uitdaging is om die bemanningslede te laat ruil in hierdie tyd. Owerhede in Trinidad en Tobago laat ons weens gesondheids- en veiligheidsredes ook nie toe om bemanningslede te ruil nie,” sê Radings.

Radings sê omdat die meeste lande in afsondering verkeer en die lughawens en grense na die lande gesluit is, raak dit elke dag moeiliker om hierdie manne terug te stuur huis toe. Om veiligheidsredes is al die bemanningslede ook versoek om in hierdie tyd op hulle onderskeie skepe te bly.

“Ons ondersoek tans alternatiewe oplossings om dié bemanningslede te repatrieer. Ons het ook reeds owerhede in Trinidad en Tobago en ander lande, onder meer Suid-Afrika, gevra om ons te help om dié repatriasieproses moontlik te maak.”

Radings sê hulle vra nou toestemming om vlugte na Amsterdam te kry om só hul Europese bemanningslede te kan repatrieer.

Die groep Suid-Afrikaners wat vanuit Kambodja teruggevlieg het (Foto: Verskaf)

Een van die vrywilligers van die HomeAwayFromHome-inisiatief (HAFH) wat die terugkeer van die groep Suid-Afrikaners in Kambodja koördineer, sê daar is nog honderde Suid-Afrikaners wat in Asië gestrand is. Maroela Media het vroeër berig van die Suid-Afrikaners wat die afgelope twee weke met Qatar Airways na Suid-Afrika kon terugvlieg. Qatar Airways het altesaam ses repatriasievlugte vir Suid-Afrikaners beskikbaar gestel. Daar is egter nóg talle Suid-Afrikaners wêreldwyd gestrand omdat hulle nie die Qatar-vliegkaartjies kan bekostig nie.

Die HAFH-vrywilliger sê daar is tans nog 120 Suid-Afrikaners in Viëtnam, 56 in Kambodja en 40 in Thailand gestrand. Omdat die lande se grense gesluit is, kan al dié Suid-Afrikaners nie na een land reis om saam op een vlug gerepatrieer te word nie.

“Dirco is bewus van al hierdie mense en is bereid om ʼn repatriasievlug te stuur. Die probleem is egter dat ʼn repatriasievlug nie in al drie lande sal stop nie. Ons moet almal in een land probeer kry om ʼn vlug vol te maak. En in dié stadium is dit nie moontlik nie omdat die lande se grense gesluit is,” vertel die vrywilliger.

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), sê die departement werk saam met ambassades wêreldwyd om Suid-Afrikaners te repatrieer.

“Ons is bewus van al die Suid-Afrikaners wat steeds oor die wêreld gestrand is. Dirco werk saam met die ambassades om seker te maak hulle keer veilig terug huis toe,” het Ngqengelele gesê.

Naledi Pandor, minister van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het Donderdag tydens ’n aanlyn mediakonferensie gesê 5 239 Suid-Afrikaners is reeds sedert die instel van die landwye afsondering van oor die wêreld na Suid-Afrika gerepatrieer.

Pandor het gesê nóg Suid-Afrikaners wat in die VSA, Rusland, Viëtnam, Indië, Katar en Brittanje gestrand is, gaan in die komende dae en weke teruggebring word.

Dirco versoek ook al die Suid-Afrikaners wat steeds in die buiteland gestrand sit om by hul onderskeie ambassades aan te meld.

Indien hulle nie in staat is om na die ambassades te gaan nie, kan hulle Dirco se sentrum wat 24 uur per dag vir gestrandes beskikbaar is, nader by +27 (0)12 351 1754 of +27 (0)12 351 1756. Hulle kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Die SA regering is met ander donker goed besig. Moenie hulle pla….

Emily ·

En wat van ons Suid Afrikaners wat op skepe werk en nie kan uitkom om te gaan werk nie. Sekere mense se beleid is mos, No work No pay.
Hoe moet hulle net soos ons geld maak as ons nie mag werk nie.
Ek ruik n rot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.