Gestrandes in Mosambiek sonder geld, medikasie

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Meer as ʼn 1 000 Suid-Afrikaners sit steeds in buurlande gestrand waarvan meer as 500 van hulle in Mosambiek finansieel en emosioneel begin swaar trek. Benewens dat hul geld en medisyne opraak, is van hulle ook al vir amper tien weke van hul geliefdes geskei en sommiges moes glo hul troeteldiere tuis laat uitsit omdat daar niemand is om na hulle om te sien nie.

Hoewel die landsgrense weens die afsondering gesluit is, is daar nie duidelikheid of die repatriasieproses aan die Suid-Afrikaanse of Mosambiekse regering se kant vertraag word nie.

Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking en ook een van die stigterslede van die Home Away From Home-inisiatief, sê die ambassade in Mosambiek kan nie duidelikheid gee waarom dié groep Suid-Afrikaners nog nie gerepatrieer kan word nie.

Een van die gestrandes, wat anoniem wil bly, sê die ambassade het verlede Vrydag ʼn groep van meer as 80 Suid-Afrikaners verwittig dat hulle Maandag (25 Mei) gerepatrieer gaan word. ʼn Uur later het die ambassade weer laat weet dat die Mosambiekse regering eers moet toestemming gee voordat die repatriasieproses kan voortgaan.

Nog ʼn anonieme gestrande sê luidens ʼn brief van die Mosambiekse regering is die landsgrense sedert 15 Mei gesluit en benodig hulle toestemming van die Mosambiekse regering om die grens te mag oorsteek.

Bergman en van die gestrandes het aan Maroela Media gesê die oorhoofse rede waarom die repatriasieproses vertraag word, is glo weens die tekort aan beskikbare kwarantyngeriewe in Suid-Afrika waar dié Suid-Afrikaners moet tuisgaan sodra hulle in die land aankom. Bergman sê weens die departement van gesondheid se regulasies moet almal wat gerepatrieer word vir 14 dae in kwarantyngeriewe bly.

Mosambiek word egter as ʼn lae-risiko land beskou.

Van die gestrandes is gr. 7- of matriekleerders wat Maandag moet terugkeer skool toe. Daar is ook van hulle wat aan sekere gesondheidstoestande ly en nie meer medikasie oor het nie.

Lilly Diamond, wat saam met haar gesin in Mosambiek gestrand is, wag nou al vir vyf weke om gerepatrieer te word. Sy is ʼn onderwyseres en moes al begin werk het. Haar man kan ook nie sy sakeonderneming aanlyn bedryf nie.

“Ons het twee klein kinders saam met ons, onder meer ’n gr. 1-leerder wat akademies benadeel word bloot omdat ons nie die nodige hulpbronne het nie,” sê Diamond.

ʼn Gestrande, wat verkies om anoniem te bly, is ʼn depressielyer en sit al vir amper drie weke sonder haar medikasie. Sy het sedertdien gereeld angsaanvalle gekry. Sy is ook tans van haar twee kinders, wat by hulle pa in Suid-Afrika bly, geskei. Haar dogter (20) is gestremd en verstaan nie haar ma se afwesigheid nie. Haar seun (15) se gesondheid ly ook onder die hele situasie.

Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, het aan Maroela Media gesê om Suid-Afrikaners uit Mosambiek te kry is die departement van binnelandse sake se verantwoordelikheid.

Siya Qoza, die woordvoerder van die minister van binnelandse sake, het weer aan Maroela Media gesê Dirco koördineer die internasionale reise van burgers. Qoza het nie verder op enige navrae van Maroela Media gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Belinda ·

Op die een kant wil mens raas, julle het vooraf geweet die grense gaan sluit, hoekom nie dadelik alles kort geknip en huistoe gegaan nie. Ek weet van mense wat sowaar nog gou wou uitglip op vakansie. Een van die groot probleme is, mense dink altyd dit gebeur net met ander mense. As jy net Wuhan se drama gevolg het, sou jy beslis geluister het, dan kom nog Italië!!!! Op die anderkant moet die regering almal deur dieselfde kam skeer, die studente & werkers wat terug gebring is van China is soos Konings behandel, meeste het geen bydra tot SA ekonomie gebring nie! Die mense wat dus vasgevang is in ander lande wat wel ‘n bydra tot die ekonomie lewer, moet eintlik so behandel gewees het, maar hulle sit gestrand en soms in haglike omstandighede, slegte swak kwarentyn geriewe. Nou is die tyd om ‘n eenheid te word en alle vorms van diskriminasie uit te wis, nie nuwe diskriminasie eras te skep nie!

BoerSonderRoer ·

Dis natuurlik net as jy dit wettig wil doen.

Onwettig kan jy kom en gaan soos jy wil.

Stefan ·

Hoekom moes die huisdiere uitgesit word?
Die bure of vriende kon hulle mos maar kom vied het.

Hannes ·

Ek en my vrou is nou reeds 15 weke in Angola. Ons het medikasie laat invlieg van SA. Ons geniet elke oomblik hier en sal bly so lank ons kan. Jammer om van ander se ellendes te hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.