Gestremd, maar stééds nie ‘waardig’ vir Sasol nie

nico-coetzer-vol

ʼn Maand nadat sy regterbeen weens ʼn spinnekopbyt geamputeer is, was Nico Coetzer (54) in ʼn rolstoel getrou terug op sy pos by Sasol in Secunda. Foto: Mia Slabbert.

ʼn Maand nadat sy regterbeen weens ʼn spinnekopbyt geamputeer is, was Nico Coetzer (54) in ʼn rolstoel getrou terug op sy pos by Sasol in Secunda.

Hy is egter steeds nie “waardig as wit gestremde werker” om deel van die brandstofreus se personeelaandeleskema, Khanyisa, te wees nie.

Coetzer, wat al 29 jaar vir Sasol in Secunda werk, het op 15 Mei 2018 ʼn e-pos aan ʼn hooggeplaasde by Sasol gestuur waarin hy navraag gedoen het oor Khanyisa en wou weet of hy as gestremde ook deel van die skema gaan wees.

“Ek is mos deel van Sasol se persentasie gestremde werknemers en dit tel vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB), daarom wou ek uitvind of ek dan ook deel van Khanyisa gaan wees,” het Coetzer gesê.

Hy is egter op dieselfde dag in kennis gestel dat hy nie ná ʼn driejaartydperk R500 000 se aandele gaan ontvang nie, omdat hy nie swart, Indiër of bruin is nie.

Sasol se personeelaandeleskema, Khanyisa, sluit wit werknemers uit bloot op grond van hul ras. In dokumentasie wat op die Sasol Khanyisa-webblad beskikbaar is, word daar uitdruklik gesê dat wit werknemers en buitelanders nie aandele in hierdie skema kan kry nie.

“Die SEB-eienaarskapplanne is ontwerp om aan die Departement van Handel en Nywerheid (DHN)-kodes (oftewel DTi codes) te voldoen. Die huidige DHN-kodes is duidelik ten opsigte van hul definisie van die aangewese groep, aangesien dit slegs betrekking het op Afrikane (Africans), Indiërs en Kleurlinge (bruin mense).

“Die Kodes maak ongelukkig nie voorsiening vir ongeskiktheid om oorweeg te word as deel van wat die aangewese groep definieer om in aanmerking te kom vir insluiting in die bemagtigingstransaksies nie. Gevolglik is jy ongelukkig nie geskik om deel te neem aan fase 2 van die Sasol se personeelaandeleskema Khanyisa (oftewel Employee Ownership Plan [ESOP]-transaksie) nie,” het die e-pos aan Coetzer gelui.

nico-coetzer-sasol-epos-skermskoot

‘n Skermskoot van die e-pos wat Nico van sy werkgewer ontvang het.

Vir Coetzer, ʼn pa van vyf, was hierdie nuus ʼn geweldige teleurstelling.

“Ek het my lewe vir hierdie plek gegee, my gesondheid, my eerste huwelik. Dit is ongelooflik hartseer om te sien wat hulle doen aan ʼn mens ná al hierdie jare. Ek is nog steeds trots op Sasol en my werk en ek glo regtig nie ek is beter as ander rasse nie, maar ek wil ook nie hê ander rasse moet dink hulle is beter as ek nie. Ek meen, ek is ook ʼn mens, ek het ook ʼn gesin,” het Coetzer aan Maroela Media gesê.

Coetzer se been is op 9 September 2014 geamputeer nadat ʼn spinnekop hom gebyt het en behandeling nie suksesvol was nie. Hoewel dit ʼn groot kopskuif vir hom was, was hy vasbeslote om sou gou moontlik terug op sy pos by Sasol te wees.

“Ek het ʼn maand ná my amputasie by die werk met my rolstoel ingerol, daardie Desember het ek met my prostese geloop en my eie kar bestuur. Ek het nie gaan lê en myself jammer kry nie. Ek wil nog werk, ek wil nog bydra en ek wil nog iets vir Sasol beteken,” het Coetzer gesê.

Coetzer het in 1989 in die watersuiweringsaanleg by Sasol, Secunda, begin werk. “Ek het alles vir hierdie plek gegee toe ek jonk was en nou draai hulle hul rug op ons en op my as gestremde. Dit is ondenkbaar.”

Die vakbond Solidariteit het vandag namens sy lede by Sasol ʼn stakingskennisgewing aan die maatskappy gestuur. Dit volg nadat 95% van die vakbond se Sasol-lede in Sasolburg gestem het om tot ʼn staking oor te gaan. As ʼn vakbondverteenwoordiger by Sasol se sake-eenheid vir gasprodukte, is Coetzer een van die 83% van die Solidariteit-lede in Secunda wat reeds “ja” gestem het vir ‘n staking.

“Sasol-lede het eenparig gesê: ‘Genoeg is genoeg. Hierdie tipe brutale rasse-uitsluiting kan nie verder geduld word nie. Hierdie wit werkers is ook waardig’,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, met die aflewer van die stakingskennisgewing gesê.

Die stemming dien as ‘n stakingsmandaat en ook as toestemming vir die vakbond om die 48 uur-stakingskennisgewing aan Sasol te gee. Die kennisgewing beteken egter nie dat die staking ná 48-uur moet geskied nie.

Volgens Coetzer is daar wit werknemers wat al 38 jaar by Sasol werk en wat werklik hul lewens vir die opbou van Sasol gegee het.

“Hierdie personeelaandeleskema sit ons almal op moedverloor se vlakte. Dit is aaklig dat ons as werkers so min vir Sasol beteken,” het Coetzer gesê.

Dit is in hierdie stadium nog nie duidelik wanneer presies Solidariteit se lede met die staking gaan begin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Liamari ·

Rassisme op sy ergste! Hoe kan ‘n maatskappy so iets regverdig? So basies word wit mense word onder dieselfde kam geskeer as buitelanders? Hierdie storie hoort internasionlaal gedeel te word!

Roñnie ·

Die vraag eindelik is hoe het Sasol tot stand gekom. White Capital? Wie trek nou voordeel?

Alida ·

Dit is brutaal en ongrondwetlik. Roer hulle tot in die hoogste hof.

Rod Steward ·

Net 2 vrae, is indiers nie ook buitelanders nie, en wie het sasol op gebou na die reus wat hy vandag is

Frikkie Geld en huis ·

Net 2 Antwoorde: Feitlik alle Indiërs in SA is gebore Suid Afrikaners. Hul voorouers was van Indië , soos wittes se voorouers van Duitsland, Engeland ens. afkomstig was.
Sasol het huidiglik meer bates in China as in Suid-Afrika. Ek glo ook nie dat hul onder die huidige ekonomiese omstandighede verder in SA sal uitbrei nie.

Ray ·

Ek sal nooit weer by ‘n Sasol pomp stop om vol te maak nie.

Frikkie ·

Jy weet Sasol verkoop brandstof aan al die ander vulstasies ook, incl Shell. Al vermy jy Sasol pompe gaan jy steeds hulle produkte ingooi, hulle chemikalieë gebruik ens.

Staak ·

As ons nou soos die ander 90% van die bevolking ons ongelukkigheid moes wys soos dit net in SA gewys kan word, dan het sassol seker al lankal gebrand.

Ig ·

Ironies dwing Sasol nou besighede na Level 2 toe om besigheid met hulle te doen maar Sasol self is maar Level 6.

Al ·

Skande Sasol – hierdie skandaal moet internasionaal uitgebasuin word!

IK ·

Lees die boek ‘Groep Sonder Grense’ van H.F. Heese. ISBN 0-909075-98-0 Gedruk (1984) UWK-drukkery. UWK=Unversiteit van Wes-Kaapland.
Die boek handel oor ons die ‘spierwittes’ wat nie in alle opsigte so is nie!! Gaan oortuig jouself eers waar jou voorgeslag vandaan kom en (soos my ma gesê het) daar nie dalk ‘n krakie iewers is. Ek het koerantuitknipsels hoe vooraanstaandes in SA in 1985 vir dr. Heese wou hof toe vat maar hulle is aangeraai om liewer stil-stil dit te los.
Nou is egter die tyd om jou plekkie d.m.v. die boek jou plek in die SA-son te verewig!! Nou wonder ek of MM dit sal plaas en lesers my tjank sal wil aftrap. Baie wat behoorlik navorsing oor families gedoen het is bewus van hierdie boek.

IK ·

Ek kan ook meld dat daar geen hoorsê opgeneem is in hierdie boek maar bestaan uit slegs navorsing in argiewe ens. deur die skrywer en sy span navorsers.

MTB ·

Kyk bietjie wie kerjakker lekker rond op hulle bergfietse (van R100k+?) en neem deel aan veeldag wedrenne wat se inskrywings etlike tienduisende rande beloop?

Duidelik is die boodskap aan Nico en sy kollegas dat julle (ons) met totale minagting behandel word. (My pa het Sasol 1 en 2 help oprig)

Rod Steward ·

Frikkie Geld en Huis.
Lyk my jy verstaan verkeerd, as die wittes nie deel kan wees van die khanyisa projek nie dan kan die indiers ook mos nie wees nie want hul kom van india af hoekom word hulle uitgesonder, hulle is mos nie van afrika afkoms nie

Mrs H ·

Hoe Demokraties is dit nou? Waar is die Demokrasie in Suid Afrika? Hoekom moet die wit mense by Sasol dan belasting aftrekkings van hul salarisse he?! Hulle is dan te wit vir betaling van belasting ook.

Lerato ·

Ek gooi nie n druppel Sasol in my of my vrou se kar se tenk nie.

ben ·

Nou word “hulle” skielik “afrikane” genoem. Hahaha.
Hoe lank gaan hierdie woord bly staan. Dan sien “hulle” dit ook as ñ skèl of vloek woord.
Ai!!!!!!!!

IK ·

In Amerika is voertuie slegs verplig om agter ‘n nommerplaat te vertoon. Aan die voorkant kan jy met daardie spasie bykans maak wat jy wil soos byv. ‘n vlag ens. Hierdie ou (ek het dit gesien) het aangebring en ook met hierdie spelling: ‘AFRIKAN”.

Andre ·

Ek wonder of Amerika nogsteeds die Sasol plant daar gaan ondersteen as hulle sien Sasol sluit voordele aan werkers uit slegs oor hulle ras. Ek kan nie dink Amerika wil met rassisme geassosieer word nie.

jaco ·

Hierdie wit werkers van SASOL moet hulle gekla stop en bloot dankbaar wees hulle het werk. Ek erken dis onregverdig dat hulle uit die personeel aandeleskema uitgesluit word, MAAR glo my, dis absolute NAG om totaal werkloos by die huis te sit en jy kry GEEN, werk nie, bloot omdat jy die “verkeerde” velkleur het.

Johan ·

Daar is nie plek in die land vir wittes meer nie…”as jy wit is moet jy uit” ek wonder of sasol enigsins nog n wit persoon sal aanstel? Weet iemand? Kry n wit jong persoon wat n goeie kwalifikasie het nog werk in die land? Dalk kan maroela n berig daaroor doen vir ons

Johan ·

As dit so is dat SASOL in anderlande is moet daar net soos met plaasmoorde n veldtog van stapel gestuur word dat ander land sasol boikot….jy kan nie een ras bematig en teen n ander diskrimineer nie…dis niks anders as apartheid omgekeer …. geen land sal dit toelaat nie….

John ·

Ja Jaco, witmense is die enigste wat altyd dankbaar moet wees. Hoeveel Afro’s werk nie by Sasol nie? Hoef hulle nie dankbaar te wees nie, maar net regte eis en kerm oor wat nog moet volg? Die EFF ea wil Sasol genasionaliseer sien en die bestuur probeer ‘n show opsit… Hierdie groep gaan uiteindelik, soos ander Afrikanerondernemings in vreemdes se hande val, as dit nie reeds is nie en afwentel tot ploeterende plastiekvervaardigers…. wat reeds in die res van die wereld in onguns verval. Volgens vorige werknemers was die besture van die Sasol’s na bewering glo die mees bombastiese en verwaandste Afrikaners wat hul nessies lekker geveer het met min respek vir gewone werkers met die houding dat die werkers dankbaar moet wees dat hulle nog werk het… soos hierbo aanbeveel… tragies…

Realis ·

Mense ASSEBLIEF! Dink mooi voor julle gaan staak. Hoe lank wil jy staak? Hoe lank is jy bereid om te staak? Het jy fondse om jou te dra? Huis, motor paaiemente. Skoolfonds, kruideniersware, munisipale rekeninge ens. ens. Skuldeisers stel nie regtig belang in jou beginsels sieninge nie. Ek was by twee staking van 8 weke elk betrokke by destydse LIW en later by Clover. Die kool is nie die sous werd nie. Dit neem jou JARE om te herstel uit die finansiële skade uit EN jy is gebrandmerk as risiko/moeilike werker. As jy nie ‘n soliede rugsteunplan het om jou finansies te dek terwyl jy staak nie, MOENIE!
As jy voel jou beginsels het prioriteit; “Doet zo voort”.

Hoe gemaak.. ·

Die hartseerste is dat meer WITTES gooi brandstof in by Sasol as swart…. Absa rewards gee my 6% terug op alle Sasol petrol aankope.. nog nie van een swart persoon gehoor wat dit gebruik nie. So wat hier gebeur is Sasol gebruik wittes se geld om swart mense se rykdom te bevorder.. dit is hoe hulle ons geld gebruik en verdeel tussen die “previously disadvantaged” in SA. Hierdie is net die begin!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.