Gestremde SA’ner tuis ná gratis behandeling in Indië

Sharad Narsai, die eerste Suid-Afrikaanse begunstigde van #Operation Rehab. Hy is tydens sy reis in Indië vergesel deur sy broer Pradeep (regs). Foto verskaf deur #OperationRehab

Sharad Narsai, die eerste Suid-Afrikaanse begunstigde van #Operation Rehab. Hy is tydens sy reis in Indië vergesel deur sy broer Pradeep (regs). Foto verskaf deur #OperationRehab

Sharad Narsai (55) van Lenasia wie se been vyf jaar gelede geamputeer is weens komplikasies van diabetes, het nou sy lewe terug – hy kan op twee bene “loop” en sien daarna uit om weer te werk.

Narsai het tot onlangs baie beperkte beweeglikheid gehad, maar sy lewe het ʼn ommekeer gehad toe hy die eerste Suid-Afrikaanse begunstigde geword het van ʼn Indiese filantroop se vrygewigheid.

Hy het verlede week Dinsdag na Suid-Afrika teruggekeer met ʼn nuwe kunsbeen wat hom in staat stel om sonder bystand te loop.

Vol energie en vol hoop vir die toekoms, het Narsai op Oukersaand met die African News Agency (ANA) gesels.

Narsai se drie en ʼn half week lange behandeling in Indië is ten volle geborg en op dié spesiale dag wou hy net gehaltetyd met sy gesin spandeer.

“Ons het ʼn klein kuiertjie met die familie gereël by Rietvlei-natuurreservaat en gebraai,” het hy gesê.

Narsai het tot ʼn maand gelede nog gesukkel om rond te beweeg en dit was buite die kwessie om ʼn werk te soek. Dit beteken dat sy vrou, Nisha Narsai, na hom moes omsien en sy moes die broodwinner wees. Die egpaar het ʼn 21-jarige seun wat rekenaarstudies aan die Universiteit van Johannesburg studeer.

Narsai se geluk het gedraai toe hy gekies is as die eerste begunstigde van Suid-Afrika se #OperationRehab, ʼn inisiatief deur die Indiese filantroop en aktivis vir gestremde persone, Shree Kanubhai Tailor.

Tailor, self ʼn gestremde persoon, het vroeër vanjaar sy planne aangekondig om gratis spesialis- mediese sorg aan te bied vir behoeftige gestremde Suid-Afrikaners. Hy het gesê sy plan is aanvanklik om die Suid-Afrikaners na Indië te vlieg vir behandeling, maar hy beplan om later fasiliteite in Suid-Afrika op te rig.

“Ek is soos ʼn koning behandel,” het Narsai gesê ná die 25 dae lange behandeling in Indië.

ʼn Prostese kos ongeveer R150 000 en ongeveer R62 000 vir die potjie, wat elke twee tot vier jaar vervang moet word. Meeste persone kan nie dié kostes dek nie, veral nie werklose persone nie.

Narsai het, sedert sy been vyf jaar gelede geamputeer is, nog nie weer gewerk nie. Hy het gesê met die nuwe kunsbeen is hy gereed vir werk en sien uit na kantoorwerk. “My vrou is bly ek het my kunsbeen en nou kan ek daarop fokus om werk te kry.”

Hy kan byna nie glo dat dit die goedhartigheid van ʼn ander gestremde persoon, wat meer as 8 000 km van hom af woon, geverg het om sy lewensvooruitsig te verander nie. Hy dink dit is “werklik wonderlik”.

Hy meen Suid-Afrika kan baie leer uit Indië se fasiliteite vir gestremde persone. “Dit was verstommend en het heeltemal my verwagtinge oortref. Ek is nog nooit met soveel sorg en respek behandel by gesondheidsfasiliteite in Suid-Afrika nie,” het Narsai bygevoeg.

Hy het gesê talle kinders, wat deur hul ouers verwaarloos is weens hul gebreke, word versorg danksy die Disable Welfare Trust. “Hulle is gelukkig, geliefd en word goed opgelei,” het Narsai verduidelik. Die kunsonderwyser het geen arms nie, en hy verf met sy mond. ʼn Jong vrou wat haar kinderjare by dié sentrum deurgebring het, is nou ʼn gekwalifiseerde dokter en kom steeds terug om met die kinders te werk.

Narsai het gesê dit sou nie moontlik gewees het sonder die filantropie van Tailor en sy Disable Welfare Trust of India nie, wat nou al talle persone in Indië gehelp het. Meer as 4 000 kinders in Indië het reeds spesialis- mediese behandeling en opleiding ontvang danksy die trust.

Tailor is van voornemens om die suksesvolle model in Suid-Afrika te dupliseer, onder die vaandel #OperationRehab – ʼn inisiatief wat gratis en laekostebehandeling bied aan gestremde persone. Meer as 2 miljoen persone in Suid-Afrika leef met gebreke en die trust beplan om nog honderde na Indië te vlieg vir behandeling voordat rehabilitasiesentra in Suid-Afrika opgerig is.

“Ná mnr. Narsai se behandeling, behandel ons tans pasiënte uit Londen en kry selfs navrae uit België,” het Tailor uit Indië gesê. “Dit beteken ons doen iets reg.” Hy het gesê #OperationRehab is ʼn program vir alle Suid-Afrikaners, en dit word gekoördineer deur die Suid-Afrikaanse bemarkings- en advertensie-agentskap Media Revolution.

Hy nooi “alle Suid-Afrikaners met gestremdhede” uit wat bystand benodig om die plaaslike koördineerder Dharmesh Nagar te kontak by Media Revolution: mediarevolution.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

André du Plessis ·

Alhoewel ‘n mens groot waardering het vir Nasai se verbeterde gesondheid, is die pryse wat prosteses na bewering in Suid-Afika kos beslis nie so hoog nie. Die bewering dat ‘n heupprostese se potjie soveel as R62 000 kos en net vier jaar hou is sekerlik nie reg nie. Daar is meer as veertig jare gelede ‘n proses in Suid-Afrika deur plaaslike ortopediese chirurge ontwikkel waar daar reeds genoeg kliniese bewyse is dat geen slytasie van die heuppotjie na minstens veertig jaar waargeneem kan word nie! Publikasies oor hierdie kliniese baanrekord is vryelik op die Internet te sien. Ek het persoonlik twee sodanige heuppotjies tydens heupvervangings ontvang en die prosteses “loop” nog uitstekend ! Laat die operasies gerus in Suid-Afrika gedoen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.