Gestremde student ondersoek ‘k’ in koeksister

Rudolph Boraine. (Foto: Verskaf)

Nie eens Rudolph Boraine se fisieke gestremdheid kon hom keer om sy navorsing oor die betwiste geskiedenis van die koeksister te voltooi en sy honneursgraad in geskiedenis te verwerf nie.

Boraine (25) leef met serebrale gestremdheid wat die fisieke funksionering van sy hele liggaam beïnvloed. Nietemin het hy ʼn tweede graad aan die Universiteit van Pretoria met lof behaal.

Vir sy honneurstudie het Boraine onderneem om die geskiedenis van die koeksister te ondersoek.

Sy navorsingsverslag, “The koeksister: A twisted history?”, het dié gewilde lekkerny se verdraaide historiese oorsprong ondersoek en die koeksister (met ʼn “k”) van Nederlandse/Afrikaanse oorsprong met die koesister (sonder ʼn “k”) van die Kaaps-Maleise oorsprong vergelyk.

Hoewel Boraine se navorsing vir hom ʼn plesier was, sê hy dat sy gestremdheid soms ʼn reuse-uitdaging was in sy pogings om sy honneursgraad met lof te slaag.

“My reis na ʼn honneursgraad was uitdagend, juis omdat ek met ʼn gestremdheid leef,” sê hy.

“Ek moes baie aanpassings maak, soos om die tyd te verleng wat ek tot my beskikking gehad het om my navorsingsverslag te skryf, asook om addisionele tyd te neem om sommige opdragte te voltooi, aangesien my tikakkuraatheid en die spoed waarteen ek kommunikeer deur my gestremdheid beïnvloed word.”

Boraine het die oorsprong van albei weergawes van die koeksister bestudeer deur gebruik te maak van onder meer resepteboeke.

In ʼn poging om die geskiedenis van hierdie twee soorte koeksisters uit te pluis het hy die ooreenkomste en die verskille van die lekkernye met mekaar vergelyk.

Hoewel die bestanddele vir albei redelik soortgelyk is, verskil die vorm van die twee items merkwaardig – die koeksister is gevleg, terwyl die koesister langwerpig is. Verder word die Afrikaanse weergawe van die lekkerny hoofsaaklik as ʼn klein koekie beskryf wat as ʼn soetding bedien word, terwyl die Kaaps-Maleise weergawe veelvuldige bedieningsopsies het, insluitend as ʼn soet bederf, ontbytitem of tydens godsdienstige feeste.

“Hierdie soetgoed het meer van ʼn omstrede en verweefde kulturele geskiedenis as wat daar aanvanklik deur historici en die breër publiek gedink is,” sê Boraine.

Rudolph saam met sy ma, dr. Hermi Boraine en sy pa, prof. André Boraine, voormalige UP-Dekaan van Regte. (Foto: Verskaf)

Boraine se studieleier, prof. Karen Harris, het gesê sy is beïndruk deur die hoeveelheid navorsing wat hy gedoen het om sy bevindinge oor hierdie betwiste geskiedenis te staaf. Boonop meen sy dat Boraine se argumente oor die beduidende verskille van die twee weergawes koeksisters oortuigend is.

Boraine sê hy het waardevolle ondersteuning van sy fasiliteerders gekry, wat hom gehelp het om op die kampus te kom en van een gebou na ʼn ander te beweeg. Dit is te danke aan dié ondersteuning, skryf hy, dat hy sy honneursgraad kon voltooi.

“Die personeel was altyd tegemoetkomend, vriendelik en het begrip vir my omstandighede gehad,” sê hy.

“Ek het naderhand besef dat enigiets met harde werk bereik kan word, ten spyte van enige fisieke uitdagings wat jy mag hê. As jy ʼn optimistiese student bly met ʼn duidelike stel doelwitte, kan jy enigiets bereik.”

Boraine was hy ook deel van die span wat met die eerste plek bekroon is in die Departement Geskiedenis se honneursargief-navorsingsprojek. Hy het ook die toekenning vir die beste tweedejaar geskiedenisstudent in 2019 ontvang.

Boraine studeer nou sielkunde en hoop om diegene met gestremdhede te bemoedig met sy suksesverhaal.

“Onthou, met die regte ondersteuning en ingesteldheid is alles moontlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Die goed is heeltemal verskillend. ‘n Koesister is soos ‘n doughnut, daar’s geen vergelyking met ‘n koeksister nie, geheel en al twee verskillende dinge. Ek weet ook nie hoekom dit nodig was om kamma die verskille te bestudeer nie want dit is nie dieselfde ding nie. Enige persoon wat die goed al geeet het, sal vir jou se dis nie nodig om navorsing te doen oor iets wat ooglopend verskillend is nie. Die interessantheid gaan meer oor die naam. Wie het die woord by wie geleen, die Afrikaners by die Kaapse Maleiers of andersom?

VaalDonkie ·

Dis eintlik voor die hand liggend dat die hollanders beide items “ontdek” het. Hulle noem dit “nonnevot” (koeksister) en Oliebollen (koesister). En “koek” is tog immers die nederlands woord vir soetgebak. So die maleiers moet maar kom “plies eksplein”.

piet ·

Nonnevot = non se agterstewe. Nou net ‘n foto van nonnevot gesien. ‘n Koeksister met wat lyk soos ‘n handvatsel (die non se agterstewe). LOL

VaalDonkie ·

Ja dit was nogal snaaks toe ek oplees daaroor. Tipies Nederlands

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.