Gestremde vrou loop 100 km vir arm kinders

Brittany het net twee jaar gelede op ’n trapmeul leer loop (Foto: Verskaf)

Brittany McCormick (25), ’n serebraal gestremde vrou van die Paarl in die Wes-Kaap, beoog om 100 km op ’n trapmeul af te lê om geld in te samel vir rolstoele vir behoeftige kinders.

Sy wil genoeg geld insamel om aan ses gestremde kinders by die Paarlskool in Brackenfell – wat nie hul eie rolstoele kan bekostig nie – te skenk. Dié skool bied spesialebehoefte-onderwys aan kinders met serebrale gestremdhede.

McCormick is as ’n kwadrupleeg met hoë spiertonus gebore. Sy is 25 weke te vroeg gebore en is net ná geboorte vir drie maande in die waakeenheid geplaas.

“Ek het baie bloedoortappings gekry, en was aan elke pyp en buis onder die son geheg. Dokters was onseker of ek die ouderdom van 18 sou haal,” vertel McCormick in ’n verklaring uitgereik deur BackaBuddy.

’n Paar maande ná McCormick se geboorte het haar ouers gesien daar skort iets.

“Ná talle doktersondersoeke is ek gediagnoseer met serebrale gestremdheid. Daarna het talle konsultasies gevolg waar dokters my gemonitor het om te kyk wat gedoen kan word om te verseker dat ek so onafhanklik moontlik kan wees.”

Die dokters het vir McCormick se ouers gesê dat sy nooit sal loop nie en van ’n rolstoel afhanklik sal wees. Ongeag wat gesê is, het sy daarin geslaag om te leer kruip. “Ek kruip steeds op die ouderdom van 25.”

As kind het McCormick talle sessies by die fisioterapeut gehad om haar mobiliteit te verbeter. Tydens een van dié afsprake in 2020, net voor die Covid-19-inperking, het hulle dit reggekry om haar op die trapmeul te kry en haar sonder enige hulp te leer loop.

Sedertdien het die trapmeul-gogga McCormick gebyt en sy het aan ’n hele paar virtuele wedrenne deelgeneem.

Verlore sonder ’n rolstoel

Brittany McCormick (25) is as baba met serebrale gestremdheid gediagnoseer (Foto: Verskaf)

Teen die einde van verlede jaar het die pype onder McCormick se rolstoel gekraak. Sy het dit ingestuur vir ’n nasiendiens, en moes tien dae daarsonder wees.

“Tydens hierdie proses het ek werklik begryp hoe dit moet voel vir ander mense met gestremdhede wat nie oor ’n rolstoel beskik nie. Ek het eerstehands ervaar hoe afhanklik ek van my rolstoel is, en hoe beperkend die lewe kan wees as jou beweeglikheid van jou weggeneem word. Ek het begin dink aan die mense wat nie in die finansiële posisie is om ’n rolstoel te bekostig nie, wat nog te sê om dit te laat herstel. Dit het ’n snaar in my hart getref.”

Sy het toe besluit om die trapmeul in te span om ’n verskil te maak aan ander mense se lewe.

McCormick beoog om oor die volgende ses maande altesaam 100 km op die trapmeul te loop om tussen R70 000 en R80 000 vir die ses rolstoele in te samel. Sy het dié geldinsamelingsinisiatief deur middel van BackaBuddy van stapel gestuur.

Sedert die bekendstelling van die veldtog op 4 April het McCormick byna R5 000 ingesamel.

Besoek BackaBuddy se webwerf om ’n skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Ek haal my hoed af vir jou. Hier by ons is die winkel om die hoek, en ek het al gesien hoe mense in hulle motors klim, om gou iets by die winkel te gaan kry.
Baie sterkte.

Casper ·

Met alle liefde en respek vra ek die vraag.Kan sy loop of nie.

Sandra ·

Sy is seker op 25 weke gebore, nie 25 weke te vroeg, of lees ek verkeerd?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.