Gestremdes se Spele-droom aan skerwe weens geldprobleme

Minke Janse van Rensburg (15) is een van die swemmers wie se drome oor goud by die spele aan skerwe lê.

Die Suid-Afrikaanse sportfederasie vir mense met intellektuele gestremdhede (Sasa-II) sê hy doen alles moontlik om te verseker dat atlete binnekort weer in die internasionale arena kan meeding.

Dié onderneming is egter veels te laat vir ʼn groep Suid-Afrikaanse sportlui. Hul drome om volgende maand aan die Trisome Spele in Turkye deel te neem is verpletter weens ʼn gebrek aan geld by dié organisasie.

Sasa-II het ʼn stokkie voor ál die atlete se oorsese reis gesteek, selfs al het die ouers van sommige van die atlete aangebied om self die koste daarvan te dra én te help geld insamel vir die res van die groep.

Weens ʼn geldtekort kon die Suid-Afrikaanse span in Oktober verlede jaar ook nie aan die Global Games in Australië deelneem nie. Dié byeenkoms is deur die internasionale sportfederasie vir mense met intellektuele gestremdhede (Inas) gereël, maar Suid-Afrika is geskors van verdere deelname weens uitstaande skuld vir ʼn vorige byeenkoms.

Ronnie Mohlabi, president van Sasa-II, sê daar is ná dié skorsing besluit dat alle internasionale deelname opgeskort word terwyl dié skuld uitstaande is. Aanstaande maand se byeenkoms word ook deur dié besluit gedek.

Internasionale deelname van ‘onskatbare waarde’

Minke spog met talle medaljes en rekords.

Die 15-jarige Minke Janse van Rensburg, ʼn swemmer met Down se sindroom van George in die Wes-Kaap, is een van die atlete wie se medaljedrome gekelder is. Minke het al verskeie medaljes ingeoes en spog met talle wêreldrekords. Die spele in Turkye is soos die Olimpiese Spele vir atlete met Down se sindroom.

Minke se pa, Hennie, sê die sportliggaam se besluit dat geen atleet die spele mag bywoon as daar nie vir almal betaal kan word nie, is onregverdig. “Ek voel hulle het ons kinders in die steek gelaat. Ons as ouers was bereid om te help geld insamel vir ál die sportkodes, maar daar is namens ons besluit dat dit nie gedoen mag word nie,” het Janse van Rensburg gesê.

Hy sê vir atlete soos Minke is geleenthede soos dié geweldig opbouend. “Kinders met Down se sindroom kry nie gereeld die geleentheid om nommer een te wees, of enigsins op ʼn podium te staan nie.

“Minke is net soos enige ander Down-sindroomkind, enige gestremde kind en eintlik enige ander kind: Sy wil voel sy maak saak. Die swemmery doen haar selfbeeld geweldig goed.”

Minke spog onder meer met vyf junior wêreldrekords, twee ope wêreldrekords en 17 Afrika-rekords, en dit was haar droom om goud te wen en op die podium te staan wanneer die Suid-Afrikaanse volkslied speel.

“My dogter, ons almal, is Suid-Afrikaners in murg en been. Ons ondersteun die land en sy sport en ons wil onder die Suid-Afrikaanse vlag meeding,” sê Janse van Rensburg.

Hy sê vir sy dogter is dit net nog ʼn gala wat nie realiseer nie en dat sy gelukkig is waar sy ook al swem. “Maar gebeure soos dié is baie ontmoedigend vir gestremde atlete.”

Jan-Herman Els, ʼn 20-jarige ʼn swemmer met Down se sindroom van Pretoria, het ook uitgesien na die spele. Hy is een van Suid-Afrika se voorste Down-sindroomswemmers en het talle wêreldrekords agter sy naam. Els het voorheen al in Mexiko, Kanada en Portugal deelgeneem.

Jan-Herman Els (20) spog verlede jaar in Kimberley met sy trofee as die beste mansswemmer met Downs se sindroom vir 2019.

Sy oupa, Jan Kotze, sê ook hulle het telkemale aangebied om geld in te samel vir al die atlete om deel te neem, maar dat dit lyk of daar ʼn onwilligheid is om dié hulp te aanvaar.

“Die geluk en vreugde wat die kinders tydens so ʼn internasionale byeenkoms van mekaar ontvang, is van onskatbare waarde.”

Kotze sê tydens ander byeenkomste moet ouer gestremde swemmers dikwels teen kinders meeding – omdat hulle tye naastenby dieselfde as swemmers met Down se sindroom is – maar dat dít ʼn demoraliserende uitwerking kan hê.

By die internasionale byeenkomste is daar geen sprake hiervan nie.

“Daar is geweldige kameraderie onder deelnemers, want álmal daar is dieselfde,” sê Kotze.

Hy sê die atlete wil bitter graag aanvaar word en juis daarom is die Sasa-II-besluit ʼn geweldige terugslag.

‘Nie in almal se beste belang’

Sasa-II sê sy beleid bepaal dat diegene wat internasionaal aan ʼn Sasa-II-byeenkoms deelneem by ʼn nasionale byeenkoms gekies moet word. Mohlabi sê dit maak dus nie saak hoe goed ʼn individu of span is nie – hulle kan nie Sasa-II se naam gebruik om internasionaal mee te ding tensy hulle tydens ʼn amptelike byeenkoms hier gekies is nie.

“Dit is nie in die beste belang van Sasa-II dat net dié wat het internasionaal kan deelneem, terwyl voorheen benadeeldes uitgesluit word nie,” sê hy.

Mohlabi sê dit is ook oneerlik om voor te gee dat die skuldsituasie voor die deur van die huidige Sasa-II-komitee gelê moet word en dat die raad nou as onbevoeg en rassisties uitgemaak word. “Die skuld is aangegaan lank voordat ons die administrasie oorgeneem het en diegene wat opgelet het, sou sien die tekens was lankal daar.

Hy sê al glo mense dit nie, doen hulle alles in hul vermoë om te verseker dat Suid-Afrika weer internasionaal kan deelneem. “Dit is ons wens om toe te sien dat elke atleet in Suid-Afrika kan deelneem en die land kan verteenwoordig, ongeag van daardie atleet se finansiële status of ras,” sê Mohlabi.

Die swembad in Muratpaşa, Turkye, wat vir sommige van die swemitems tydens die Trisome Spele gebruik gaan word. (Foto: Facebook)

Atlete ‘minderwaardig behandel’

Heloïse Jordaan, die VF Plus se woordvoerder oor sport, sê Sasa-II se onbeholpenheid en swak bestuur het tot dié situasie gelei.

Volgens Jordaan het die organisasie enige vorm van private finansiering afgeskiet, maar self niks gedoen om geld vir atlete te probeer insamel nie. Sy sê die departement van sport het ook “hoegenaamd nie die wil of vermoë getoon om enigsins die probleem te pak nie”.

“Dit is absurd dat atlete van internasionale gehalte op so ʼn minderwaardige wyse behandel word deur nie net die liggaam wat veronderstel is om hulle beste belange te bevorder nie, maar ook deur die departement van sport wat by elke denkbare geleentheid met hulle sogenaamde inklusiwiteit spog,” sê Jordaan.

Hoop vir die toekoms

Janse van Rensburg sê hy hoop die probleme word vinnig uitgestryk, nie net vir sy dogter se onthalwe nie, maar ook vir die talle ander atlete soos sy wat elke dag bloed sweet om op hul eie manier die hoogste sport te bereik.

“Ons bly positief en is groot voorstanders van sport vir gestremdes. Ons moet gestremde mense aan die beweeg kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ElizeK ·

Ai, my hart gaan uit na ieder en elk van die deelnemers. Dit is so so hartseer. Jammer dat selfs SA se gestremdes deur ANC in die steek gelaat word, maar as ek die artikel reg opsom, is dit meer n kwessie van omgekeerde rassisme.

Piet parys ·

Ja en so val die bus se wiele af tenkoste van die atlete. Hoekom is daar sportministers . Dank die hele lot af en kry bevoegde mense. As jy nie jou werk doen nie hoort jy nie in daai possisie nie . Hulle kryGroot salarisse ten koste van die atlete.

Johan Venter ·

Moet my nou waaragtag nie sê die kleur van die vel is ook hier ‘n probleem nie!

Stefan ·

As Sasa-II nie meer kan doen waarvoor hulle daar is nie moet dit ontbind word sodat ons kan ophou om hul waarskynlik baie gunstige salarisse te betaal.

Charmain ·

Pieter, jy vra hoekom is daar sportministers?
Die antwoord is eenvoudig: om shine te vang by die wereld rygby beker en soortgelyke byeenkoms te (waar die hele familie op die soustrein kan klim en shop en eet en drink op belastingbetalers se geld). Vir die res voel hulle vere!

Sarel ·

Dit is uiterse skande en jy sal nooit die wasrheidciitvind nie. Geld kan op ander terreine vermors word. VFPlus & DA, kry asb antwoorde en of ras nie weer rol speel.nie.

david ·

Dit lyk vir my soos ‘n herlewing van die ou ANC struggle kreet : “charge one, charge all”…..as ALMAL nie kan gaan deelneem nie, kan niemand gaan deelneem nie..!
Wat se die Grondwet hieroor ..?

madels ·

Ek kan nie verstaan hoekom moet enige iemand deur n organisasie werk nie. Alles maar alles in hierdie wêreld moet deur “organisasies, federasies en watookal” gedoen word! Hoekom mag hierdie kinders wie se ouers bereid is om te betaal en geld insamel nie gaan nie? Hier is DUIDELIK N ANDER AGENDA :-(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.