Getal besoekers by Kaapstad-piekniekplekke beperk

Argieffoto (Foto: Dimitris Vetsikas/Pixabay)

Stad Kaapstad sal van Saterdag die getal besoekers by piekniekplekke en braaigebiede in sy natuurreservate vir die feesgety begin beperk. Dié voorsorgmaatreël word ingestel weens ʼn skerp styging in die getal Covid-19-gevalle in die stad.

Die stad bestuur 21 natuurreservate wat baie gewilde bestemmings is, veral oor naweke en openbare vakansiedae. Buiten die normale aktiwiteite soos stap en wateraktiwiteite, het sommige reservate ook piekniek- en braaigebiede waar besoekers kan ontspan en met vriende en familie kan kuier.

“Omdat die reservate ʼn veilige hawe is vir besoekers te midde van die Covid-19-pandemie omdat die ruimtes in die buitelug is, het die piekniekplekke en braaigebiede al hoe meer gewild geraak,” het Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, gesê. “Ongelukkig beleef ons ʼn skerp toename in die getal Covid-19-gevalle in Kaapstad en die stad het nie enige ander alternatief om die getal besoekers vanaf hierdie naweek tot verdere kennisgewing te beperk nie. Dit is om seker te maak dat ons voldoen aan gesondheid- en veiligheidsprotokol om die verspreiding van die pandemie te beperk en ons besoekers en personeel so ver as moontlik te beskerm.”

Nieuwoudt sê die stad is bewus van hoe die waarde wat inwoners aan natuurreservate heg. “Ons het hierdie waardering gesien in die toename in besoekersgetalle sedert die afsonderingsregulasies ʼn paar maande gelede verslap is. Ons verwelkom steeds besoekers en maan inwoners om ontvlugting in die buitelug te kom soek. Ons wil egter almal daaraan herinner dat die dra van gesigmaskers verpligtend is, net soos sosiale distansiëring. Diegene wat graag wil kom piekniek hou, word aangeraai om aan die beperkings te voldoen indien hulle by hul bestemming opdaag en die piekniek- of braaigebied nie meer enige besoekers kan toelaat nie weens sosiale distansiëringsregulasies. Ek bedank besoekers vir hul ondersteuning en begrip omdat dié voorsorgmaatreëls in die belang van ons almal se veiligheid is.”

Die beperking op die getal besoekers geld vanaf 12 Desember 2020 tot verdere kennisgewing. Geen alkohol word in die stad se natuurreservate toegelaat nie, met die uitsondering van geleenthede wat vooraf toestemming bekom het.

Die volgende natuurreservate het piekniek- en braaigebiede:

  • Helderberg-natuurreservaat
  • Valsbaai-natuurreservaat
  • Blaauwberg-natuurreservaat
  • Tygerberg-natuurreservaat
  • Table Bay-natuurreservaat
  • Durbanville-natuurreservaat
  • Bracken-natuurreservaat

Ander gebiede in die natuurreservate, insluitend staproetes en damme is oop vir besoekers volgens die normale voorwaarde dat besoekers aan Covid-19-regulasies voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mynie ·

En die massas gaan daan aankom en eenvoudig die hekke platdruk om in te kom. Want niemand kan mos sê daar is nie meer plek as daar nog plek is nie. Hulle sal doen wat hulle wil, want hulle het massas in hulle guns. Geen wag gaan n klomp ontstoke eiewillige mense stop om by n hek in te gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.