Getal gestroopte renosters neem af

Argieffoto van twee renosterwesies. (Foto: Susan Scott)

Die harde werk om renosterstropery in Suid-Afrika die hoof te bied is besig om vrugte af te werp, sê die minister van omgewingsake, Barbara Creecy.

Sy het in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA-LP James Lorimer gesê 548 renosters is van die begin van die jaar tot die einde van Julie in Suid-Afrika gestroop, wat ʼn matige afname van 91 renosters (14%) teenoor dieselfde tydperk verlede jaar verteenwoordig.

Van die gestroopte renosters was 513 witrenosters en 35 swartrenosters.

Van die swartrenosters is 32 in die Krugerwildtuin dood en drie by Pilanesberg naby Sun City in Noordwes.

Van die witrenosters is 472 in die Krugerwildtuin dood, een in die Mokala-wildtuin naby Kimberley, twee in die Marakele-wildtuin naby Thabazimbi en 28 by Pilanesberg.

In hierdie tydperk is 376 verdagtes in verband met renosterstropery aangekeer. Hiervan is 366 in die Krugerwildtuin gevang, sewe by Pilanesberg en drie by Mokala. Vyftien van die gearresteerdes is veldwagters.

Oor die optrede teen stropers het Creecy gesê ’n holistiese, geïntegreerde, multidimensionele benadering word gevolg, met samewerking tussen die departement van omgewingsake, SANParke, provinsies, die polisiediens, die Valke, doeane- en aksynsowerhede, die weermag, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Staatsveiligheidsagentskap en private wildsplaaseienaars.

Tegnologie, teenstropery-optrede en die bestuur van renosterbevolkings dra onder meer tot die matige sukses by, het Creecy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Niklaas ·

Ek sluk maar swaar aan hierdie minister se stelling. Ons is gereeld in KNP en die kere wat ons renosters sien raak al minder.

Ameli ·

Ja dit sal voorkom of dit afneem! Want daar is nie meer baie renosters oor nie. En dit het ek direk v d anti pouching eenheid self gehoor.

De Villiers ·

Dis net soos jy dit daar sê, @Ameli. In verhouding bly dit dieselfde, of dalk meer nog. Wat die regering steeds nog nie verstaan na al die jare se blootstelling aan hierdie probleem nie, is dat dit nie help dat ons (regstelsel) heeltyd by die kriminele se gedrag moet aanpas nie, in plaas daarvan dat die kriminele eerder by óns moet aanpas. Ons regstelsel is glad geen afskrikmiddel vir hierdie genadelose kriminele nie. Die strawwe is te lig en menseregte seëvier vir die kriminele, daarom dat dit so aanhou. Tronkstraf help nie want hulle geniet al die voorregte daar op die belastingbetaler se rekening. Boetes help nie, want hulle kan dit nie bekostig nie, dan bly hulle eerder in die tronk totdat hulle weer vrygelaat word, net om weer voort te gaan met hul bedrywighede. Maak die straf vir renosterstroping báie strenger, soos doodstraf en fisiese harde handearbeid met geen kans op parool totdat jou termyn in die tronk uitgedien is nie. Dis hoe jy in Afrika met sulke kriminele moet werk om enigsins die gewenste reaksie te kry.

Kobus ·

Ek noem die volgende onder korreksie maar verstaan dat in Botswana Renosters as ń nasionale bate beskou word. Die stroop/onwettige jag van ń renoster word as ń aanval op die staat beskou en oortreders word op sig doodgeskiet. Selfs al is my inligting verkeerd, ek dink dít is al wat sal help.

Stiks ·

Veldwagters wat ons moet beskerm wanneer ons die parke besoek?

Gaitsigubib ·

As hulle jag van renosters gewettig het, dan was daar op elke plaas renosters, net soos wat daar op elke plaas Swartwitpense is en niks in KNP nie. Leeu getalle gaan ook nou begin afneem nadat dit 10 jaar terug die inding was om met leeus te boer. Getalle sal nou aanhou afneem, want politiek maak dit moelik om met wild te boer. Hierdie tendense is egter nie noodwendig nodig nie as daar samewerking sou wees van die publiek se kant af. In Zimbabwe het die jagbedryf die ekonomie aan die gang gehou vir n aantal jare na 2000 se grondgrype begin het. Korrupsie het ongelukkig deure oopgemaak vir stroop van wild op die “regmatige” eienaars se grond. Dit wat gevolg het was n slagting- van die wildplase naby Harare is nou slegs fotos en vae herinneringe oor.

Salamander ·

Gaitsigubib, ek is bly daar is mense soos jy wat nog helder dink oor die saak. Leeus se prys gaan styg tot hulle gewig in goud.

Doodstrafterug ·

Die lewe moet moeiliker gemaak word vir hul in tronk. Dat hul nooit seker Sal wees dat hul lewendig ongedeerd daar Sal uit kom. En wat van Ander natuur lewe wat ook gestroop word. Tyd dat mens moordenaars, verkragters, dwelm smouse pamper Lang moet Vinnig op n einde kom. Doodstraf moet terug kom en tronke raak tevol en kos teduur.

Nico Uys ·

Johannes. Dit reg om na die stropery van die renosters te verhoed, hoe gaan dit werklik gestop word, wat van die plaasmoorde, hoe gaan dit gestop word.

wilma ·

Kobus ek sal graag wil sien dat stropers met hul vuil lewe moet boet.

toy ·

Sien is glo, mens kan nie gaan op hoor se nie. Gee bewyse. Daar moet ‘n oordentlike voorbeeld gemaak word van die stropers, mens raak nou dik vir al die bygelowe soos renosterhorings wat help vir allerhande kwale. Dit is ‘n klomp twak.

Attie. ·

Renosterhoring is in die Ooste duurder as goud per gewig. Al renosterhring wat die mark haal is die wat onwettig gestroop word in SA. Tonne horing lê egter op wildsplase en Nasionale parke maar mag nie bemark word nie agv wetgeweing. Indien elke eienaar van renosterprodukte dit mag verkoop en op die manier die mark oorvloei sal die prys daal en minder gesog maak. Dit word in sekere oosterse medisyne gebruik maar deesdae is renosterhoring ongelukkig ook gesog as juwele wat as gepoleerde stafies as nekhangertjies gebruik word deur die wat dit kan bekostig. Indien boere en die Parkeraad hul wettige horing mag verkoop direk aan wie hulle wil sal die renosterstropery teengewerk word. Cites se opinie sal eers verander wanneer die laaste renoster dood is en dan eers sal ons weet dat die wet eintlik die renosterstropery aangemoedig het.

Japie ·

Sanparke voer baie renosters uit na Botswana waar stropers op sig geskiet word deur hulle weermag. Berigte van 100 per maand word genoem.

MW ·

Botswana vat nie nonsens nie, dis net hier wat jy met alles onwettigs wegkom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.