Getroud met Rugby-akteur oorlede

Runaldo Hendricks (Foto: Getroud met Rugby/Twitter)

Runaldo Hendricks, wat die karakter Zappa in Getroud met Rugby vertolk het, is Saterdagoggend oorlede.

Soné Combrinck, uitvoerende vervaardiger van die reeks, het aan Maroela Media bevestig Hendricks is in ʼn motorongeluk oorlede. Daar is nie in hierdie stadium verdere inligting oor sy afsterwe beskikbaar nie.

Die reeks sal ná môreaand se episode op kykNET ʼn huldeblyk lewer aan die akteur. Hy was sedert 2016 by dié sepie betrokke. Sy karakter is tans in ʼn groot storielyn betrokke met David Louw, wat die rol van Simon vertolk. Combrinck het bevestig dat die verfilming van dié storielyn reeds afgehandel is.

Hendricks het onlangs na Kaapstad verhuis om sy loopbaan in die Moederstad voort te sit. “Hy het so uitgesien na sy nuwe lewe en ʼn nuwe seisoen vir sy loopbaan,” het Combrinck bygevoeg.

Hendricks sou op 5 Mei sy 28ste verjaarsdag gevier het.

Huldeblyke stroom in op sosiale media vir Hendricks.

Adriaan Marais, Hendricks se mede-akteur in Getroud met Rugby, het in ʼn Facebook-plasing gesê dit was ʼn eer om hom te ken. “Dit was ʼn eer om saam met jou te werk en jou ʼn vriend te kon noem. Jy gaan baie gemis word. My gebede gaan uit na jou familie. Ons is saam met julle stukkend. Baie lig en liefde vir julle. Rus sag by ons Hemelvader, my vriend.”

Hoërskool Labori in die Paarl het gesê hulle verneem met skok van die afsterwe van een van hul oudleerders. “Runaldo was deel van die Labori-familie tot hy ʼn rugbybeurs by ʼn skool in Pretoria gekry het. Sterkte aan sy familie en vriende. Jul is in ons gebede. Ons innige simpatie met jul groot verlies. Rus in vrede, Runaldo.”

Hoërskool Die Wilgers in Pretoria het ook ʼn huldeblyk gelewer. “Dit is met leedwese dat ons verneem van oud-Wilgie, Runaldo Leighton Hendricks se afsterwe. Runaldo het in 2012 by Hoërskool Die Wilgers matrikuleer. Hy was ʼn Wilgerboskoshuis-inwoner en hy was ook ʼn kranige rugbyspeler vir die White Sharks. Ons innige simpatie gaan aan sy familie, vriende en mede oud-Wilgie maats. Hy los ons met wonderlike herinneringe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.