Getuie gesoek ná moord op Valke-kaptein

Lereng John Meku wat gesoek word. Foto: Verskaf

Die polisie in Bloemfontein is op soek na ʼn man wat hulle moontlik met inligting kan bystaan in verband met die onlangse moord op ʼn plaaslike kaptein van die Valke.

Maroela Media het vroeër berig die beampte, kapt. Qeya Jonas Tshabalala, was op 24 Mei omstreeks 20:45 by ʼn huis in Taustraat, Rocklands, toe drie gewapende mans hom oorval het. Hy is verskeie kere geskiet en het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Die aanvallers het met sy amptelike voertuig, dienspistool en ʼn selfoon van die toneel gevlug. Die voertuig is later verlate gevind naby Jimmy Roos-skool in Dewetsdorp.

ʼn Volskaalse ondersoek na die moord is van stapel gestuur en dit het tot die inhegtenisneming van Sprinkaan Maema (33) gelei. Maema het Maandag vir die tweede keer in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. Die saak is tot 13 Junie uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog gaan aansoek doen.

Die polisie is steeds op soek na twee verdagtes.

Intussen het die polisie ʼn beroep op die publiek gedoen om hulle by te staan om na Lereng John Meku (28) te soek.

“Die polisie glo Meku kan hulle bystaan met inligting rakende die moordondersoek,” het kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, gesê.

Enigiemand wat weet waar die man hom moontlik kan bevind, word versoek om kol. Nthako Mkhawulezi by 082 527 7504 te kontak.

Kapt. Qeya Jonas Tshabalala. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ontstellend ·

Werklik ontstellend, alles wat vir reg en geregtigheid staan word aangeval. Mag jou dood nie verniet wees nie, maar die draaipunt waar hul besef menseregte moet vir wetsgehoorsame burgers wees en nie vir kriminele!!!! Die dag as mense regte wegval sal geregtigheid geskied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.