Getuie sê hy wou oom op Pampoenkraal-plaas red

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van regs: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Staatsgetuie Eric Hlatswayo het Dinsdag getuig dat hy op 9 April 2021 saam met een van die oorledenes, Mgcini Coka, na die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief, Mpumalanga, is om sy oom te red wat deur “die boere aangerand en aangehou is”.

Eric se oom, Nhlanhla William Hlatshwayo, was deel van ʼn groep voormalige plaaswerkers wat op 9 April op die plaas Pampoenkraal opgedaag en die huidige plaaswerkers verjaag het. Hulle was glo ontevrede daarmee dat seisoenale werkers van buite die omgewing aangestel is.

Die skietdood van Mgcini Coka en sy broer, Zenzele Coka, het oomblikke daarna gevolg.

Daniel Malan, Cornelius Greyling, Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Zenzele Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter staan tereg op dié twee broers se dood.

Eric het Dinsdag in die landdroshof in Evander, Mpumalanga, as ooggetuie getuig. Die verdediging se weergawe verskil egter drasties van dié getuienis.

Eric se getuienis

Betogers buite die hof waar die ses boere en een plaaswerker in verband met die Pampoenkraal-voorval verhoor word (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Eric getuig hy het die oggend ʼn oproep van sy tante oor William ontvang. Hy en Mgcini is saam in hul onderskeie voertuie na die plaas.

“Ek kon nie my oom daar los nie. Ek sou eerder sterf as wat my oom sou sterf,” het Eric getuig.

In beeldmateriaal wat in die hof gewys is, kan gesien word hoe Eric en Mgcini by ʼn plaashek (wat deur die hof as hek A geïdentifiseer is) opdaag, waarna Mgcini sy hemp uittrek.

Die video wys dan hoe Zenzele Coka in die rigting van sy broer hardloop, waarna ʼn konfrontasie tussen die twee ontstaan. Eric loop in die rigting van die boere en plaaswerkers wat ʼn paar meter van die voertuie, by ʼn gebou wat as die plaas se kantoor uitgewys is, staan.

Die video wys hoe Mgcini ná ʼn ruk uit sy broer se greep losruk en ook in die rigting van die boere en plaaswerkers hardloop. Dit is dan duidelik dat Eric ʼn fisieke konfrontasie met Yende begin. Daar kan gesien word hoe Mgcini ook die boere en werkers konfronteer.

In die video is dit duidelik dat die boere nie aggressief is tydens die konfrontasie nie.

Eric getuig hy het Yende se hande in ʼn greep vasgehou terwyl hy vir hom gevra het waar sy oom is.

“Hy het my nie geantwoord nie en hy het sy hande uit my greep geruk. Mgcini het toe na my toe gekom en gevra ek moet die perseel verlaat. Ek het geweier, waarna hy weer gevra het.”

Volgens Eric het Zenzele weer na hom en Mgcini gegaan en gevra hulle moet die plaas verlaat. Hy het hulle ingelig dat William nie daar is nie, maar by ʼn ander plaashek (wat deur die hof as hek B geïdentifiseer is). Dit is by hierdie hek waar die skietery van die Coka-broers plaasgevind het.

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van regs: Andries Pienaar, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Ignatius Michael Steynberg, Othard Johan Klingenberg en Cornelius Lourens Greyling (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Malan, Greyling, Klingenberg, Yende en Pienaar saam met Mgcini en Eric het daarna in sarsies na hek B gery.

Eric vertel by hul aankoms by hek B het hulle vir Malan daar aangetref, gevolg deur Greyling en Klingenberg, wat die hek toegemaak het. Hy het getuig Hans Moolman asook Pienaar en Steynberg was ook op die toneel. Hy sê van die boere was met vuurwapens gewapen.

Cilliers ontken egter dat Pienaar en Steynberg op die toneel was. Dit is duidelik in die video dat Steynberg nie op die toneel was nie en eers ná die polisie daar aangekom het.

In die video kan ook gesien word dat Pienaar op pad na hek B (voor die skietery) naby die hek gestop en dan sy bakkie agteruit beweeg het. Hy getuig dat hy in daardie stadium geweerskote gehoor en besluit het om uit die “gevaarsone” te beweeg. In die video kan gesien word dat hy ook nie te voet na die toneel stap nie, soos Eric beweer.

Volgens Eric het Mgcini eers vir Malan en toe vir Klingenberg gevra of hy toegang tot die hek kan kry “om huis toe te gaan”. Volgens die getuie het beide boere toegang geweier.

Eric getuig ʼn struweling het tussen Mgcini, Klingenberg en Moolman gevolg.

“Klingenberg het sy vuurwapen uitgepluk en soos Mgcini probeer weghardloop het, het ʼn skoot afgegaan en Mgcini het op die grond geval. Klingenberg het na Mgcini geloop en nog ʼn skoot – met die vuurwapen op sy kop gerig – afgevuur.

“Zenzele het die skoot hoor afgaan en Klingenberg gevra waarom hy vir Mgcini geskiet het. Klingenberg het vir hom gesê om weg te staan. Zenzele het in die rigting gedraai waar sy broer lê en Greyling het hom van agter in die rug geskiet.”

Die verdediging getuig só

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van links: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens Cilliers is Moolman by hek B deur Mgcini met ʼn piksteel oor die kop geslaan, waarna Moolman sy bewussyn verloor het. Mgcini het daarna Moolman se vuurwapen opgetel, lui die getuienis.

Klingenberg het daarna op Mgcini geskiet om homself en die ander boere te beskerm.

Foto’s van Moolman se beserings is in die hof as bewysstuk ingedien en volgens Cilliers het hy weens die hou op sy kop skedelbreuk opgedoen en moes hy ook twee breinoperasies ondergaan.

Eric het tydens kruisondervraging egter ontken dat hy die aanval op Moolman gesien het. Hy het ook ontken dat Mgcini gewapen was. Cilliers het hom egter daarop gewys dat die eerste staatsgetuie, Siyabonga Hlatshwayo, getuig het dat van die groep voormalige werkers wel gewapen was. In die video is dit ook duidelik dat van die groep mans met stokke by die plaas opdaag.

Getuienis is ook gelewer dat Malan ʼn besering aan sy kop – net bo sy regteroog – opgedoen het. Eric kon egter nie antwoord hoe hy dié besering opgedoen het nie.

Cilliers het daarop gewys dat ballistiese toetse bevestig het dat Moolman se vuurwapen meer as een keer op die toneel afgevuur is, maar daar is geen geweerresidu aan sy hande gevind nie.

Daar is wel residu aan Klingenberg en Mgcini se hande gevind.

“Die beskuldigdes het hul weergawe van die voorval onder eed verskaf nog voordat die ballistiese toetse se uitslae bekendgemaak is,” het Cilliers aangevoer.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

Die “staatsgetuie” se getuienis is hoogs onwaarskynlik. Die beeldmateriaal wat verskaf is wys die teenstrydighede van sy getuienis duidelik uit.

Hennie ·

Die staat het soos gewoonlik weer meer afgebyt a wat hulle kon kou en dit is duidelik dat die boere onskuldig is. Gooi die saak uit.

domheks ·

Ek hoop die klaers betaal die boere se regskostes. Want alles is nou omgedraai.

Swerwer ·

Waarom het die seisoenale werkers teruggegaan na die plaas as hul nie permanente werkers is nie. Alles word weer opgeblaas. Maar o ja, hul het mos die enigste sê en die enigstes wat wette mag verontagsaam. Geregtigheid sal hier seëvier .

Gideon ·

In n ordentlike wetgewende demokratiese land was die saak al 6 maande terug klaar uitgesort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.