Getuie skoonveld ná moord op Bfn-man

Bloemfontein. (Argieffoto: Facebook)

Die polisie in Bloemfontein is op soek na ʼn man wat aan die einde van die maand in die hof moet getuig oor ’n moordsaak wat sedert 2015 ondersoek word. Die polisie kon Denaldro Slinger (32) nie opspoor nie nadat hy sy woonadres en kontakbesonderhede verander het.

Slinger het inligting oor die moord van Theo van Wyk wat in 2015 in Bloemfontein plaasgevind het.

Volgens kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het Van Wyk op 6 September 2015 omstreeks 05:15 by sy woonplek in die Elangeni-kompleks in Willows, Bloemfontein, aangekom. Hy het aan sy huis se deur geklop en gewag dat sy vrou die deur moet oopmaak. Terwyl hy by die deur gewag het, het ʼn verdagte hom oorval en met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan.

“Van Wyk se vrou het die deur oopgemaak en hom roerloos op die grond aangetref,” bevestig Mbambo.

ʼn Saak van moord is by die Parkweg-polisie in Bloemfontein aanhangig gemaak en een verdagte is in hegtenis geneem. Die polisie het nie die naam of identiteit van die verdagte bekendgemaak nie.

“Tydens die ondersoek is verklarings van getuies verkry. Slinger is onder meer ondervra. Hy moet hieroor getuig wanneer die saak van 30 Augustus tot 3 September in die hof aangehoor word. Die polisie sukkel egter om hom in die hande te kry nadat sy woonadres en kontakbesonderhede verander het.”

Die polisie vra Slinger, of enigiemand wat weet waar hy hom bevind, om kapt. Kelaotswe Lebodu van die Bayswater-polisie by 082 466 8618 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Klink nie vir my of hy ‘n getuie is nie maar eerder ‘n verdagte!!!

Anoniem

Hier is beslis ‘n slang in die gras

Hennie J

Die moord word al sedert 2015 ondersoek. Geen wonder die getuie(verdagte?) is al skoonveld nie. Dit spreek boekdele van hoedmannetjie se kaders se bevoegdheid!