Gevaarligte flikker oor koronavirus in Limpopo

(Argieffoto: Unsplash)

Gevaartekens is besig om in Limpopo uit te slaan oor die provinsie se hantering van die koronavirus – en die tweede golf infeksies is maar aan die beginstadium in die land se noordelikste provinsie.

Amptenare van Limpopo se gesondheidsdepartement het Donderdagoggend ʼn voorlegging oor die situasie in die provinsie gedoen aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid. Limpopo is die vierde provinsie wat so ʼn voorlegging doen (die ander was die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal) en hul voorlegging was verreweg die kommerwekkendste.

Amptenare het erken dat Limpopo lig daarvan afgekom het in die eerste golf infeksies, maar hierdie keer is dit ʼn ander storie. Van die 40 364 gevalle wat sedert die plaaslike ontstaan van die virus in Limpopo gediagnoseer is, is 10 137 tans aktief en is 1 525 in die afgelope 24 uur aangemeld.

In Limpopo het 702 mense reeds sedert Maart verlede jaar weens die virus gesterf.

Die meeste gevalle kom in die Capricorn-distriksraad voor, gevolg deur Waterberg, Vhembe, Mopani en Sekhukhune. Hoewel gevalle van die virus oral skerp styg, styg dit minder in die Vhembe-distriksraad as in die ander distriksrade.

Die dorpe met die grootste stygings is Polokwane (Pietersburg), Tzaneen, Thohoyandou, Lephalale (Ellisras), Mokopane (Potgietersrus) en Thabazimbi. Hoewel die aantal gevalle reeds vyf keer meer as in die eerste golf in Limpopo is, wys die grafieke dis maar nog die begin van die tweede golf in die provinsie.

Limpopo se statistieke toon vroue is meer vatbaar vir die virus as mans. Hoewel by verre die meeste koronavirus-lyers in Limpopo tussen 30 en 59 jaar oud is, is die sterftesyfer hoër hoe ouer die pasiënt is.

Die rooi ligte flikker helder en voortdurend as dit kom by die provinsie se vermoë om die toekomstige tendense van die siekte te hanteer. Dit was duidelik dat die amptenare nie goed ingelig is oor die situasie in private hospitale nie, en al is die provinsie maar aan die begin van die tweede golf is hospitaalbeddens reeds 76% beset.

Die provinsiale amptenary het meer gekla oor ʼn gebrek aan geld en personeel as wat hulle gepraat het oor oplossings. Hulle voer aan hulle het te min geld en dat mediese en ander personeel al meer bedank, van die werk wegbly en verlof neem uit vrees dat hulle by die werk aan die virus blootgestel sal word.

Personeel vrees glo om in hul gemeenskappe gestigmatiseer te word en hulle voer aan hulle is te bang en te moeg om te werk.

Boonop het net vier hospitale in die hele provinsie groot suurstoftenks; ʼn tekort aan suurstof word dus verwag, het amptenare gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pandora1 ·

Dan wonder ek hoeveel geld daar spandeer is aan die Covid 19 kliniek in Nylstroom??

Tanniepetoors ·

Verskonings, verskonings en nie ‘n enkele oplossing vir die probleme. Geluk Limpopo, julle het mooi geleer by NDZ en Kie.

Baardman ·

Skrik nou eers wakker, die soustrein is laaaaankal verby

Pieter ·

Die ANC se steun is by die 80% in Limpopo. Give the people (who govern) what they voted for. Fair and square.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.