‘Gevaarlike misdadiger’ vas in Mpumalanga

Die polisie het wapens en ander gesteelde goedere in beslag geneem. (Foto: Verskaf)

Die polisie in Limpopo het Saterdagaand beslag gelê op ʼn gesteelde vuurwapen en twee handgranate, nadat hulle ʼn man net buite Dullstroom in Mpumalanga in hegtenis geneem het.

Wetstoepassers het Saterdagaand ʼn padblokkade op die Loskop-Ntwane-pad langs die Moutse-landdroshof gehou en omstreeks 21:00 die 28-jarige verdagte in ʼn wit Volkswagen Polo van die pad afgetrek.

Die voertuig is deursoek en die polisie het ʼn gesteelde vuurwapen, 43 rondtes 9 mm-ammunisie en twee handgranate gevind. Die vuurwapen is glo uit die Dullstroom-polisiestasie gesteel. Die polisie het ook beslag gelê op handboeie, ʼn weerkaatsende baadjie en ʼn koeëlvastebaadjie wat deur die polisie gebruik word.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo het die verdagte, wat volgens die polisie gevaarlik is, hom aanvanklik teëgesit toe die polisie hom in hegtenis wou neem. Sy profiel sal nou nagegaan word om te bepaal of hy met ander ernstige misdade in die gebied verbind kan word.

Volgens Mojapelo word hy deur klagtes van diefstal van ʼn polisie vuurwapen, onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, en die nabootsing van ʼn polisiebeampte in die gesig gestaar.

Die verdagte sal binnekort in die Moutse-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.