‘Gevaarlike’ misdadiger vlug ná hy polisiekaptein doodskiet

Die polisie op die toneel by die hof. Foto: Via @crimeairnetwork

Die polisie op die toneel by die hof. Foto: Via @crimeairnetwork

Die Gautengse polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn “uiters gevaarlike” verhoorafwagtende gevangene, wat Woensdagoggend uit die aanhoudingselle by ʼn landdroshof ontsnap het nadat hy ʼn polisiekaptein doodgeskiet het.

Dit is die tweede keer wat die man uit aanhouding ontsnap. Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die voorval het omstreeks 09:00 by die Thembisa-landdroshof, tussen Pretoria en Johannesburg, plaasgevind.

“Joshua Bomba Shongwane moes vandag in die landdroshof verskyn vir strafregtelike verrigtinge in verband met ʼn reeks kapingsake in die provinsie,” het Dlamini gesê. Shongwane was in ʼn aanhoudingsel toe hy op ʼn manier toegang tot ʼn vuurwapen verkry en dit op drie polisiebeamptes gerig het.

“Hy het die selle se sleutels afgeneem en die beamptes in ʼn kantoor toegesluit. Vandaar is hy met ʼn stel trappe af, waar hy die kaptein doodgeskiet het voordat hy gevlug het.”

Die kaptein is in die onderlyf getref en is op die toneel dood. ʼn Ondersoek is van stapel gestuur om te vas te stel hoe die gevangene die vuurwapen in die hande gekry het terwyl hy in die aanhoudingselle was.

Volgens Dlamini is dit die tweede keer wat Shongwane uit aanhouding ontsnap. “Hy is aanvanklik in hegtenis geneem in verband met nege kapings wat in 2009 in Tembisa, Rabie Ridge en Kagiso plaasgevind het. Hy het in 2015 ook uit ʼn hof se aanhoudingselle ontsnap en is later weer in hegtenis geneem. Hy word as gewapen en uiters gevaarlik beskou.”

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om Crime Stop by 08600 10111 te bel as iemand Shongwane sien. ʼn Beloning word aangebied.

Joshua Bomba Shongwane. Foto: Verskaf

Joshua Bomba Shongwane. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Liewe heksie ·

Gevaarlik en 1 polisieman begelei hom was dit n gevaarlike wit man was daar n hele mag wat hom belei het RIP dapper man

Kiepie ·

Liewe Heksie jy lees seker ‘n ander berig as ek want ek weet nie waar kom jy aan jou feite nie. En om dan sommer nog (op jou verkeerde feite) ‘n ras-ding ook daarvan te maak is ‘n lang stretch.

Cherokee ·

Kiepie, àlles in hierdie land is rasgebonde. En nou sê ek sommer vir jou in swart op wit dat ek met Levinia saamstem. Hulle is hopeloos en dan is ‘n wapen nog by hul;le deurgesmokkel, tien teen een deur een van hulself.. Hy het ‘n vorige keer al ontsnap en behoort dus voertboeie te gedra het.

M ·

Toe Rhode hier in Jhb gehaal is was die hele Stellenboch polisie hier gewees om hom te kom haal.

Gert ·

Kiepie , ou woelwater goga , my seun die lewe het gedraai heksie is reg , vertel ons eerder waneer word jy 18 dan vuur ons jou verjaarsdag saam .

Esmay ·

Ja Gert jy vat die woorde so uit my mond. Ek het nou so gelag, kon amper nie boodsk tik nie !!!!

Irene ·

Gevaarlike misdadiger se voete hoort geboei te wees maar dit gaan lekke daar

Piet Snot ·

Dis ‘n belastinggaarder met ‘n gesplete persoonlikheid.

Wel wel ·

Wel wel, as jy hom gewaar, maak seker jy skiet 1ste, ons weet nou almal hy draai nie doekies om nie, hy is gevaarlik, maak skoon jul vuurwapens en hou dit gereed!

Han ·

Waarom het hy nie voet- en handboeie aangehad nie?! Leer hulle dan nooit nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.