‘Gevaarlike misdadigers’ ontsnap uit tronk

Argieffoto

Die Oos-Kaapse polisie is op soek na drie gevangenes wat Dinsdag uit die Middledrift‑ Korrektiewe Sentrum in dié provinsie ontsnap het.

Siza Mhlana, Andisa Vas en Aviwe Nkwalase het daarin geslaag om uit die gevangenis te ontsnap. Volgens brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, was die drie besig om vonnisse uit te dien op aanklagte van onderskeidelik roof, gewapende roof, poging tot moord en parooloortredings.

Die polisie het die ontsnaptes as “gevaarlik” bestempel.

Dit is nie tans duidelik hoe die drie daarin geslaag het om te ontsnap nie. Die voorval word deur die departement van korrektiewe dienste ondersoek.

Kinana het bevestig die polisie ondersoek ook ʼn voorval waartydens ʼn gekaapte motor ná die ontsnapping ʼn paar kilometer van die gevangenis gevind is. “Hierdie spesifieke voorval kan egter in die stadium nie met die ontsnapte verdagtes verbind word nie. Daar word beweer vyf mense, insluitende twee vroue, was in die gekaapte motor voor dit in die gebied agtergelaat is. Geen beserings is aangemeld nie,” het Kinana gesê.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het intussen opdrag gegee dat ʼn taakspan op die been gebring word om die ontsnaptes op te spoor. “Dit is die laaste ding wat ons in hierdie tyd nodig het. Wetteloosheid het geen plek in ons gemeenskappe nie en sal nie geduld word nie,” het Ntshinga gesê.

Enigiemand met meer inligting oor die gesoekte misdadigers word versoek om ao. Matshaya by 078 456 4571 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
pateties

Dit is pateties een of twee ontsnapping per jaar is verstaanbaar maar elke 2 de dag wys op hoe pateties en ongedissiplineerd die mense is.

Zaks

SO BERIG BETEKEN ABSOLUUT NIKS SONDER FOTOS. KLINK MY NET OM WEB BLAD VOL TE KRY.

? leser

blah, blah, blah, ntshinga, gevangenisse is ‘n speelplek vir misdadigers, misdadigers weet hoe om julle ore aan te sit, meeste bewaarders verdien meer geld by so ‘n ontsnapping as hul eie salaris

IK

Moes hulle nog stem vir die verkiesing . . . ?

Johanna Botha

Weer !