Gevaartekens flikker as regering sny aan basiese onderwys

pen-penne-skryfbehoeftes-skool

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is bekommerd dat die besluit om die begroting van basiese onderwys te sny, tot gevolg gaan hê dat kinders ongeskool gelaat gaan word.

Die besnoeiing sal ongetwyfeld ’n negatiewe effek op klasgrootte en leerderprestasie hê.

Malusi Gigaba, die voormalige minister van finansies, se begroting bevat ʼn plan om die befondsing van basiese onderwys oor die volgende drie boekjare met sowat R7 miljard te besnoei. Dit blyk dat veral skoolinfrastruktuur en verdere opleiding van onderwysers hierdeur geraak sal word.

“Die departement van basiese onderwys se planne is maar eintlik net ʼn aanduiding dat die land se kinders nie vir die regering belangrik is nie. Hul plan om minder skole te bou en minder in die onderrig van wiskunde en wetenskap te belê, terwyl veel meer geld vir hoër onderwys bewillig word, is ʼn sterk indikasie hiervan en laat die gevaarligte flikker,” het Hugo Vermeulen, hoof van die SOS, gesê

Vermeulen meen die gevolg van die voorgenome planne van die regering sal geweldige druk op die huidige skoolstelsel plaas. “Die klasgroottes sal ongetwyfeld toeneem en dit is reeds te hoog. Dit sal weer lei tot meer uitvalle van onderpresteerders en skoolhoofde en onderwysers nog meer moedeloos maak. Ek sal dus wil sien dat die minister van basiese onderwys nou na vore tree deur hierdie aanbevelings met alle mag te beveg, maar ook dat ministers Pandor en Motshekga nouer saamwerk ten einde hoop vir die land te skep.”

Daar moet juis meer hoërskole opgerig en geïdentifiseer word wat spesifieke fokus plaas op wiskunde en wetenskap. Daar is reeds sulke skole soos Mbilwe Secondary en Thengwe Secondary in Limpopo asook Hoërskool Ferdinand Postma in Noordwes. Hierdie skole presteer uitstekend en lewer ’n puik eindproduk wat ’n bydra maak tot die lewering van meer wetenskaplikes. By Mbilwe en Thengwe neem alle graad 10 tot 12 leerlinge wiskunde en fisiese wetenskap en dit word met groot sukses toegepas.

Werksessies, seminare en kongresse wat fokus op wiskunde- en wetenskap-indiensopleiding vir onderwysers moet juis uitgebrei en vermeerder word ten einde beter en meer wetenskaplikes te lewer. Die regering moet die leiding neem om die private sektor te aktiveer en mobiliseer om hierin te belê.

“Is dit ANC-beleid om Suid-Afrikaanse kinders so ongeskool moontlik te laat? Dit lyk beslis so as ’n mens na die jongste planne van die regering kyk,” het Vermeulen gesê.

Ian Ollis, die DA se skaduminister vir basies onderwys, het ook sy kommer uitgespreek oor die regering se planne om die begroting van die departement van basiese onderwys te besnoei.

Volgens Ollis het ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag van die party getoon dat teen Desember 2016 meer as 1 000 skole landswyd met onvanpaste materiaal gebou is, 66 het geen sanitasiegeriewe gehad nie en meer as 4 600 het slegs puttoilette gehad. Nog ʼn verdere 81 skole het geen watervoorsiening gehad nie en 571 skole het oor geen elektrisiteitsverbinding beskik nie.

Die versnelde skole- infrastruktuurleweringsinisiatief (ASIDI) sal eers in 2021 vrugte werp maar die departement van basiese onderwys het ál sy teikens vir die program die afgelope jaar gemis. Voorts het die departement genoeg geld om sy ASIDI-teikens te bereik, maar dit word nie bestee nie. Ollis meen die wanbesteding van die geld belemmer enige vordering om skole se infrastruktuur te verbeter.

“Daar is reeds ʼn groot agterstand op skole-infrastruktuur reg oor die land en talle leerders sal nie toegang tot hoër onderwys kan kry as hulle skole se infrastruktuur vervalle raak nie.

“Ons is sterk gekant teen die begrotingverlaging van R7 miljard en sal voortgaan om die ineenstorting en verwaarlosing van skole se infrastruktuur te beveg. Ons kinders verdien toegang tot ʼn omgewing wat bevorderlik is vir onderrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alida 2 ·

O my genade!!!
Afgeskeepte basiese onderwys maar gratis naskoolse studie?
Dit is so verkeerdom soos baie ander dinge in die land.
Kry basiese onderwys op standaard en die slaagsyfer verder sal ook verbeter.

Eish ·

Baie goeie punt.
Dit bewys maar net weer die magshonger van politici. Studente kan stem, kleuters nie.

Hanna ·

Hou die stemvee so ongeskoold as moontlik en die ANC sal elke verkiesing wen. Ongeskooldes en swak geskooldes word van die staat afhanklik. En dit is die regering se plan. 17 miljoen mense op staatstoelaes. Viva ANC, viva!

Wonder ·

My ma het vir my gesê as ek iets verkeerd om doen: Jy dink gatkant voorentoe. Dis nou presies soos die regering dink.

karin ·

kan dit nie self beter gestel het nie. die regering faal die volgende generasie wat die land vorentoe moet vat. daar is reeds hierdie jaar soveel leerlinge wat nie hul skooldag kon begin het nie agv te korte en nie plek nie. as die basics reg gedoen word sal die res ook in plek val.

Lynette Schultz ·

Zimbabwe het uitstekende onderwysstelsel en hulle het ‘n despoot vir jare toegelaat om hulle land tot in die afgrond af te breek.

Geleerdheid is ongelukkig soms verkwis op ‘n verkeerde MENTALITEIT.

Bosbok ·

Hulle werk duidelik met n plan om die “fees must fall campaign ” te laat werk….. deur te sorg dat die kinders nie eers tot by sekondêr sal kan vorder nie, wat nog van Universiteit.

Alida ·

Ek gister kommentaar gelewer oor hierdie kwessie. Ek wou net weet of die Dept al voorsiening gemaak het vir die 2013 geboorteontploffing wat in 2019 skole gaan nodig he. Daar is alreeds nie genoeg skole nie nou wil hul die begroting sny. Ai Ai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.