Geval van cholera in Limpopo bevestig

Argieffoto: Pixabay.com

’n Geval van cholera in die Alldays-omgewing in Limpopo is aangemeld.

Neil Shikwambana, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het Dinsdag bevestig ’n Zimbabwiese plaaswerker het dié siekte in sy tuisland opgedoen waarna hy dit na Limpopo oorgedra het waar hy werksaam is.

Dit volg nadat die Zimbabwiese regering in September vanjaar ’n nasionale noodtoestand verklaar het ná ’n cholera-uitbreking in dié land.

Volgens Shikwambana het die pasiënt twee weke gelede Zimbabwe besoek waarna hy met sy terugkeer braking en diarree ontwikkel het. Hy het by die plaaslike kliniek om mediese hulp gaan aanklop en is intussen na die Helena Franz-hospitaal in Polokwane oorgeplaas.

Shikwambana sê ’n bloedmonster is by die pasiënt geneem en weggestuur vir laboratoriumtoetse, waarna uitslae bevestig het dit is wel ’n geval van cholera soos aanvanklik vermoed. Dié monster is gevolglik na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gestuur vir verdere toetse.

Die departement het in reaksie op die diagnose ’n span kundiges ontbied om verdere epidemiologiese en omgewingsondersoeke op die plaas waar die pasiënt werksaam is, te doen.

Die pasiënt is stabiel en ontvang tans behandeling.

Die departement van gesondheid doen ’n beroep op gemeenskappe om die nodige voorsorg te tref en persoonlike higiëne te handhaaf deur dié riglyne te volg:

  • Was jou hande met seep en lopende water nadat jy die toilet gebruik het.
  • Was jou hande voor en ná etes.
  • Spoel alle groente en vrugte met water af voor jy dit eet.
  • Drink water wat van ’n veilige bron af kom of kook dit voor verbruik.
  • Verseker dat jou kos deeglik gaargemaak word.

Enigiemand van enige ouderdom kan cholera opdoen. Simptome sluit skielike diarree met of sonder braking of ernstige dehidrasie in. Shikwambana moedig mense aan wat vermoed dat hulle met cholera besmet is om so gou moontlik by hul naaste kliniek aan te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Skroef ·

Watter firma onder blanke bestuur/direksie gaan hieroor aangekla of gekpmg word?

Daan Erasmus ·

Ons weet hoe jy Cholera kry. MAAR is dit aansteeklik? Moet ek versigtig wees vir iemand wat dit het?

marous ·

Die epidemies wat hierdie land gaan tref gaan Zimbabwe soos ‘n steriele hospitaal laat lyk .
Motsoaledi en sy heerser sal die blaam weer verskuif na apartheid en wittes …hou maar dop .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.