Gevalle van renosterstropery halveer in 2020

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Renosterstropery het in die eerste ses maande van 2020 met byna 53% afgeneem. Dit is vermoedelik deels te danke aan die algehele landwye afsondering.

Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, het Vrydag in ʼn verklaring gesê 166 renosters is sedert die begin van die jaar in Suid-Afrika gestroop. Dít vergeleke met die 316 renosters wat gedurende dieselfde tydperk verlede jaar in die land onder stropers deurgeloop het.

Vandag (Vrydag) is Wêreldveldwagterdag.

“Ná ʼn dekade waartydens ons verskillende strategieë ingestel en veldtogte van stapel gestuur het in die stryd teen die toenemende renosterstropery deur plaaslike stropers wat deur misdaadsindikate gewerf en bestuur word, sien ons nou uiteindelik resultate,” het ʼn dankbare Creecy gesê.

Volgens die minister het die afsonderingsregulasies wat sedert Maart ingestel is om Covid-19 te bestry, beslis ʼn rol gespeel in die afname in renosterstropery, aangesien beweging tussen provinsies en lande nou reeds maande lank beperk word.

Sy wys daarop dat nie ʼn enkele renoster gedurende April vanjaar in die Nasionale Krugerwildtuin se Intensiewe Beskermingsone gestroop is nie. Dit is die eerste keer in tien jaar dat die wildtuin ʼn maand lank nié onder stropery deurgeloop het nie.

Sedert die instel van die algehele landwye afsondering op 27 Maart 2020 tot einde Junie 2020 is 46 renosters wel oor die hele land gestroop. Altesaam 14 van dié renosters is gedurende April gestroop, 13 gedurende Mei en 19 gedurende Junie.

“In die Krugerwildtuin is 88 renosters in die eerste ses maande van 2020 gestroop. Soos die afsonderingsregulasies geleidelik opgehef is, het die voorvalle van renosterstroping stadig weer begin toeneem,” het Creecy verduidelik.

Altesaam 57 verdagtes is gedurende dié tydperk buite die Krugerwildtuin in hegtenis geneem, terwyl 38 verdagtes hul rieme in die wildtuin styfgeloop het. Daar is ook gedurende teenstropingsoperasies op meer as 40 vuurwapens beslag gelê.

Volgens Creecy kan die afname in renosterstropery ook deels toegeskryf word aan die ontwrigting van uitvoere weens die nasionale reisbeperkings. Dít ondanks verskeie pogings in die eerste twee weke van Julie om renosterhorings ter waarde van ongeveer R115 miljoen deur die Internasionale Lughawe OR Tambo te smokkel.

Altesaam 23 renosterstropers is ook gedurende die eerste ses maande in ʼn hof skuldig bevind op aanklagte van renosterstropery.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) kon tussen Januarie en Junie vanjaar nie net daarin slaag om verdagtes in 15 sake skuldig te bevind nie, maar het ʼn merkwaardige skuldigbevindingsyfer van 100% gehandhaaf. Benewens hierdie hoë skuldigbevindingsyfer is streng vonnisse ook deur die howe opgelê.”

Die minister het nou haar dankbaarheid teenoor die land se veldwagters uitgespreek wat die stryd teen renosterstropery elke dag aansê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Was daar ooit so iets gewees? Selfs nie in die steentydperk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.