Gevangene in hegtenis vir moord op Leeuwkop-beampte

Die Leeuwkop-gevangenis. (Argieffoto)

ʼn Gevangene by die Leeuwkop-tronk in Johannesburg is in hegtenis geneem in verband met die moord op Eunice Moloko, ʼn 50-jarige vrouebewaarder.

Maroela Media het vroeër berig Moloko se lewelose liggaam is op die vloer van die medium A Covid-19-isolasie-eenheid aangetref. Haar baadjie was glo met bloed bevlek. ʼn Bloedbevlekte handdoek is glo ook naby haar liggaam aangetref.

Moloko werk al 23 jaar vir die departement van korrektiewe dienste (DKD) en die parlementêre portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste het vroeër ʼn volledige verslag oor die voorval geëis.

Volgens die komitee is Moloko moontlik verkrag en verwurg.

Phathekile Holomisa, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, het die inhegtenisneming verwelkom en het die gevangenis vroeër vandag self besoek.

Holomisa het die versekering gegee dat die omstandighede van Mokolo se “wrede dood” omvattend ondersoek sal word. Die nakoming van veiligheidsprosedures is een van die fokuspunte van die ondersoek en sal hopelik meer lig werp op die omstandighede wat gelei het tot dié “katastrofiese gebeurtenis”.

Volgens die adjunkminister het die voorval skokgolwe deur die departement gestuur en is dit bemoedigend dat ʼn verdagte reeds aangekeer is.

Hy het ook gevra dat diegene wat DKD-beamptes aanval en vermoor die swaarste moontlike straf opgelê word.

“Dit is hartseer om iemand van dié kaliber te verloor was geweldig bygedra het tot die skep van veiliger gemeenskappe in die land,” sê Holomisa.

Hy sê sou die ondersoek wys dat daar enige nalatigheid van die bestuurspan van die sentrum was, die departement nie sal huiwer om stappe te doen nie.

“Ons doen ʼn beroep op mense om die reg sy loop te laat neem en nie sonder feite te bespiegel of te blameer nie.”

Holomisa het ook Moloko se familie besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Hmmm…. MM, dit klink nie reg nie. Jy neem nie ‘n gevangene in hegtenis nie.

Irene

In my DKD dae was bewaarsters nooit alleen by gevangenes nie. Die vrou is verkrag en vermoor so sy was alleen by die gevangene …..?????

Debbie

Waarom is daar vroue bewaarders in mans tronke? Dit is belaglik en moeilikheid soek

Hennie J

Die antwoord is heel envoudig. Kyk wie is die grootbaas van dkd!!!!!!!!!!!!!!!!

H.A.

Gaan hy nou 15 dae langer sit?