Gevangene nou verdagte in boer se moordsaak

Freddie Tolman Foto: Facebook

Freddie Tolman Foto: Facebook

ʼn Man wat reeds agter tralies was in verband met ʼn saak van sakeroof, word nou ook van die moord op ʼn Wes-Kaapse boer aangekla.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê die 44-jarige gevangene is deur forensiese bewyse aan die moord op Freddie Tolman (52) verbind. Die verdagtes is vroeër in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog by ʼn sakeperseel in die Heidelberg-omgewing.

Volgens Pojie het die verdagte reeds op 20 Oktober in die hof verskyn in verband met die moord op Tolman. Hy word van gewapende roof en moord aangekla. Hy moet weer op 10 November in die hof verskyn en bly in aanhouding. Volgens Pojie word die moontlikheid ondersoek dat die verdagte by verskeie misdade in die Suid-Kaap en spesifiek die Boland-omgewing betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig Tolman is op 17 Desember 2014 buite Hartenbos vermoor. Eugene Tolman, Freddie se seun, het destyds gesê sy pa het omstreeks 06:20 die oggend by sy plaashuis gery om sy werkers in Mosselbaai te gaan oplaai. Tolman se aanvallers het hom in ʼn lokval gelei en ʼn stomp in die pad geplaas. Die ses verdagtes het op hom losgebrand toe hy nie stilgehou het nie.

Eugene het gesê sy pa het sowat 1 km verder gery voor hy naby die Brandwag/Hartenbos-pad sy bewussyn verloor het. Hy is in die bolyf geskiet.

ʼn Paartjie wat van Brandwag na Hartenbos gery het, het Tolman se bakkie langs die pad gesien en stilgehou om ondersoek in te stel. Volgens Eugene het sy pa se aanvallers die ruit van die paartjie se Chev Avio uitgeslaan en die voertuig gekaap.

Die polisie het vroeër bevestig die gekaapte motor is naby die Danabaai-afrit in Mosselbaai gevind. Die paartjie is nie beseer nie.

Lees alle vorige berigte oor Freddie Tolman op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans Schutte ·

Ek mis nooit maroela se nuus nie.Baie dankie dat julle ons 100 % op hoogte hou wat in die land aangaan en veral omdat dit verniet is en ons nie daarvoor hoef te betaal nie

Sella ·

Hoekom moet ons by netwerk 24 betaal om ons nuus te lees? Dis my brood of nuus.

Nita ·

Die sleutelwoorde hier is: Tolman het gery om sy werkers te gaan haal. Reken net; hulle het werk, hulle word nogal gaan haal ook en sou sekerlik weer die middag afgelaai word ook. Dis nou stank vir dank. Ek wens iemand wil die som maak en bereken hoeveel mense al hulle werk kwyt is deur die sinnelose moorde.

Lollie ·

Nita dit mag wees dat ek verkeerd lees maar dit klink nie vir my of die oorledene deur die mense wat vir hom werk vermoor is nie. Hy was nog oppad in n ander spul het stompe in die pad gesit en hom vermoor????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.