Gevangenes gooi kookwater oor beamptes uit

Argieffoto

Nadat twee bewaarders Sondag by die Goodwood-gevangenis in Kaapstad deur ʼn gevangene met ʼn mes gesteek is, het dit aan die lig gekom dat dit nie eerste voorval van sy soort by dié tronk is nie.

Simphiwe Xako, hoof van kommunikasie by die departement van korrektiewe dienste (DKD), het gesê in nog ʼn voorval by dié gevangenis is ʼn gevangene na ʼn hospitaal gehaas nadat kookwater op hom uitgegooi is tydens ʼn geveg tussen lede van die 26-bende en die 28-bende.

Xako het gesê in nóg ʼn bendeverwante voorval is vier beamptes van die departement op 18 Januarie vanjaar na ʼn hospitaal gehaas nadat gevangenes kookwater oor hulle uitgegooi het. Die beamptes was besig om ʼn soekoperasie in die Pollsmoor-tronk se Medium B-afdeling uit te voer.

Xako het gesê leierskap binne die DKD sal indringende stappe neem om bendeverwante geweld in gevangenisse hok te slaan.

Maroela Media het vroeër berig twee bewaarders van die Goodwood-gevangenis is Sondag in die hospitaal opgeneem nadat ʼn gevangene, wat glo sy status as “generaal” in die berugte 28-bende wou bewys, hulle met ʼn mes gesteek het.

“Ongeveer 150 polisiebeamptes het gister lede van die DKD se noodondersteuningspan gehelp om ʼn soekoperasie by die gevangenis uit te voer. ʼn Selfoon, selfoonlaaier, skerp skeerlemme en ʼn paar selfgemaakte messe is in die selle gevind,” het Xako gesê.

Xako het gesê Delekile Klaas, die Wes-Kaapse streekskommissaris, het intussen ʼn lang vergadering met die provinsiale polisiekommissaris gehou. “Die vergadering het daarop gefokus om te gesels oor hoe meganismes versterk kan word om in die toekoms soortgelyke voorvalle te bespeur en te verhoed dat bendeaktiwiteite in gevangenisse in die Wes-Kaap al meer uitbrei,” het Xako gesê.

“Daar is ook gekyk hoe samewerking tussen die SAPD en die DKD versterk kan word. Owerhede monitor die situasie by die gevangenisse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Ag hemel tog erken tog maar dat NOG n departement in duie gestort het. Is daar nog een oppad?

Oom Kalahari ·

@Alida, ja ek stem saam dat die een Staats departement na die ander besig is om tot ‘n val te kom wat miljoene Rande in die proses kos. So kru hul vervanging met goue handdruk en dan word dievolgende rondte korruptes aangestel.

Marinda ·

Hoekom het die gevangenis toegang tot kookwater? Word hulle toe gelaat om ketels in hulle selle aan te hou?

Elsa ·

Hoe is dit moontlik dat bende bedrywighede in die tronke is? Genugtig, is daar geen beheer oor die mense nie? Tyd dat die onheile uitgeroei word en mense tot bekering kan kom em van elke gemeenskap ‘n beter plak te maak. ook die insmokkelvan ‘n mes en drugs, waar is die owerhede wat moet oplet…nee maggies, binne of buite die tronk, geen orde

Ja hoor ·

AG VERTEL MY ASB hoe en waar en in watter hoeveelhede behalwe ‘n koppie koffie kry gevangenes KOOKWATER om op beamptes te gooi? Lyk my hulle het deesdae toegang tot messe, kookwater, selfone, rewolwers . lekker plek daai tronk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.