Gevangenes mag weer besoekers ontvang

(Argieffoto: Unsplash)

Gevangenes mag weer in tronke deur vriende en familie besoek word.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het Dinsdag gesê besoeke by die land se 243 korrektiewe sentrums word onder streng voorwaardes gedurende vlak 1 van die afsonderingstydperk toegelaat.

Besoeke word nou tot twee besoekers per gevangene per maand beperk. Slegs een besoeker per gevangene per besoek word toegelaat. Geen kontak tussen die gevangene en besoeker word toegelaat nie.

Besoeke moet 48 uur vooraf gereël word met die betrokke korrektiewe sentrum. Besoekers sal nie toegelaat word sonder ʼn afspraak nie. Besoekers behoort 30 minute voor ʼn afspraak reeds aan te meld.

As daar op enige gegewe tydstip nuwe of vermoedelike gevalle van Covid-19 in ʼn sentrum of onvoorsiene omstandighede op die perseel voorkom, kan dit besoeke beïnvloed.

Volgens Nxumalo is besoektye tussen 09:00 en 15:00 op besoekdae. In sentrums waar die gevangenisstraf- én die vonnisopleggingskategorie bestaan, en na gelang van die aantal gevangenes, kan verhoorafwagtende gevangenes op Maandae, Dinsdae en Vrydae besoek word, behalwe op openbare vakansiedae. Gevangenes wat reeds gevonnis is, mag op Woensdae, Donderdae, naweke en openbare vakansiedae besoek word.

Gevangenes sal toegelaat word om items te ontvang volgens hul voorreggroep en soos voorgeskryf in die beleid.

Gevangenes se regsverteenwoordigers moet ook vooraf reëlings tref om kliënte te besoek. Tydens hierdie besoeke mag die regsverteenwoordigers en gevangenes ook geen kontak hê nie.

Regsverteenwoordigers en gevangenes kan dringende aangeleenthede telefonies bespreek nadat die hoof van die sentrum goedkeuring verleen het en indien die omstandighede en hulpbronne dit toelaat.

Besoekers word versoek om die nodige Covid-19-gesondheidsprotokol en die korrektiewe dienste se standaardprosedures ten volle na te kom. Dit sluit onder meer in dat geen besoeker sonder ʼn gesigmasker in ʼn korrektiewe sentrum toegelaat sal word nie.

“Ons vertrou op lede van die publiek om eerlik te wees tydens die ondersoek om potensiële infeksies en virusoordrag te voorkom. Diegene wat met iemand in aanraking gekom het wat positief vir Covid-19 getoets het, moet dit aandui. Dit is belangrik om daarop te let dat die verskaffing van verkeerde inligting ʼn strafregtelike oortreding is,” sê Nxumalo.

“Ons sal dus voortgaan om die situasie te monitor en waar nodig veiligheidsmaatreëls en werkprosedures aanpas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Regverdigheid ·

MMMMM meer reg as siek mense in hospitale … se maar net.

Tanniepetoors ·

En wanneer mag ons nou weer mense wat in hospitale is vir nie-covid-verwante siektes en behandeling, besoek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.