Gevangenes mag weer in tronk besoek word

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Gevangenes mag weer in tronke deur vriende en familie besoek word.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het Maandag gesê besoeke by die land se 243 korrektiewe sentrums word onder streng voorwaardes gedurende vlak 2 van die afsonderingstydperk toegelaat.

Besoeke word nou tot een besoek sonder kontak per gevangene per maand beperk. Slegs een besoeker per gevangene per besoek word toegelaat.

Besoeke moet boonop 48 uur vooraf gereël word en besoekers sal nie toegelaat word sonder ʼn afspraak nie. Besoekers behoort 30 minute voor ʼn afspraak reeds aan te meld.

Volgens Nxumalo is besoektye tussen 09:00 en 15:00 op besoekdae.

Geen besoeker sal sonder ʼn gesigmasker in ʼn korrektiewe sentrum toegelaat word nie.

Gevangenes se regsverteenwoordigers moet ook vooraf reëlings tref om sy of haar kliënt te besoek. “Regsverteenwoordigers en gevangenes kan oor dringende aangeleenthede telefonies kommunikeer nadat die hoof van die sentrum goedkeuring verleen het en indien die omstandighede en hulpbronne dit toelaat,” het Nxumalo gesê.

Die departement van korrektiewe dienste het teen Sondagaand reeds 6 855 bevestigde Covid-19-gevalle aangemeld waarvan 341 tans aktiewe gevalle is. Van dié gevalle is 129 gevangenes en 212 korrektiewe beamptes.

Altesaam 49 gevangenes en 67 korrektiewe beamptes het reeds weens die koronavirus gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae