Gevangenes ontsnap in Oos-Kaap

Die departement van korrektiewe dienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ʼn soektog van stapel gestuur nadat vier gevangenes Woensdag uit die Mdantsane- korrektiewe sentrum in die Oos-Kaap ontsnap het.

Vuyo Gadu, woordvoerder vir die departement, het gesê die ontsnapping het Woensdagoggend omstreeks 07:00 aan die lig gekom toe ontbyt bedien is. Die vier mans wat ontsnap het, is Lihle Zikholisile (19), wat 35 jaar uitdien op aanklag van roof, huisbraak, verkragting en moord; Norman Mukunuwendo (22) van Zimbabwe wat 15 jaar uitdien op aanklag van roof met verswarende omstandighede; Phikolomzi Sonakele (23) wat 12 jaar uitdien op aanklag van roof met verswarende omstandighede met ʼn hangende saak oor verkragting wat volgende maand in die Mqanduli-landdroshof aangehoor sou word; en Sandile Vena (22) wat 23 jaar uitdien op aanklag van verkragting, roof en ontvoering. Hy het ook ʼn hangende saak teen hom in King William’s Town.

Gadu het gesê die mans se gevangenesklere is agter die tronk se grensdraad gevind.

“Hulle het ongesiens ontsnap. Ons probeer steeds bepaal hoe hulle ontsnap het,” het hy bygevoeg. “Hulle was almal in aanhouding vir ernstige misdade, insluitend verkragting, roof, vuurwapens, ammunisie en ontvoering. Hulle word as baie gevaarlik beskou. Die departement doen ʼn beroep op enigiemand wat inligting het wat tot hul inhegtenisneming kan lei.”

Die publiek word aangeraai om dadelik hul naaste polisiestasie te kontak indien die ontsnaptes gewaar word, en dat geen poging aangewend word om hulle self aan te keer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hanna ·

Begin solank die tronkbewaarders ondervra. Hierdie tipe ontsnappings raak nou net te algemeen… Inside job all the way!

Houtoog ·

Tweede par. se laaste sin: Spelling is ‘King William’s Town’.
Opmerklik dat daar waarskynlik nie ordentlike foto’s van hulle beskikbaar is?
Ek stem saam, begin intern soek na die oorsaak van die ontsnapping. Ek laat my nie vertel dat nadat hulle van die tronkklere ontslae geraak het hulle kaalbas verder gevlug het!!

Cyril Blackburn ·

Dagsê Houtoog
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.