Gevangenes ontsnap uit polisievragmotor

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

ʼn Onbekende aantal gevangenes het ontsnap nadat ʼn groep gewapende mans losgebrand het op ʼn polisievragmotor wat gevangenes van die Ga-Rankuwa-landdroshof vervoer het.

Kapt. Doniah Mothutsane, woordvoerder van die polisie, het gesê die vragmotor het 28 gevangenes van die Ga-Rankuwa-landdroshof na die New Lock-gevangenis vervoer. Die vragmotor het op Lucas Mangope-rylaan naby Medunsa gery toe dit in ʼn hinderlaag gelei is deur ʼn onbekende aantal mense.

“Die verdagtes het op die vragmotor losgebrand voor hulle die deur oopgedwing het. Van die gevangenes het van die vragmotor af in die verdagtes se voertuig ingespring terwyl die ander te voet gevlug het,” het Mothutsane gesê.

Die pad naby Medunsa was ʼn miernes van bedrywighede met meer as 15 polisievoertuie wat voor die ingang van die universiteit parkeer was. Die polisievragmotor het in die middel van die pad bly staan terwyl lede van die forensiese-eenheid die toneel gefynkam het. Polisiebeamptes het intussen te perd na die verdagtes gesoek in ʼn nabygeleë veld terwyl ʼn helikopter oor die gebied gevlieg het.

Volgens Mothutsane is dit nog nie duidelik hoeveel gevangenes ontsnap het nie. “Niemand is beseer nie en ons ondersoek die saak. Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom. Hulle kan 0800 10 111 skakel of hul naaste polisiekantoor kontak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerrit ·

28 Gevangenis was in die vragmotor,maar dis onbekend hoeveel ontsnap het ??
Dis nou werklik swak beriggewing, of was die polisie beamptes nie by magte om te tel nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.