Gevangenes ontsnap uit vangwa op N2

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

Drie gevangenes het Maandag die dak van ʼn bewegende vangwa oopgebreek en op die N2 in Glentana in die Wes-Kaap op vlug geslaan.

Die mans, tussen 27 en 30 jaar oud, was van die Mosselbaai-landdroshof na die George-gevangenis onderweg toe hulle dié kans gewaag het.

Kapt. Malcolm Poje, polisiewoordvoerder, sê een van die mans is kort ná die ontsnappingspoging naby die hoofweg in hegtenis geneem, terwyl die ander twee in die Hoogekraal-omgewing vasgetrek is.

Poje sê hoewel die omstandighede van die ontsnappingsvoorval nog ondersoek word, dui ʼn voorlopige ondersoek daarop dat die mans ’n dakpaneel van die vangwa “kragdadig oopgemaak” het.

“Hulle het vandaar deur die dak van die bewegende voertuig naby die Glentana-brug ontsnap.

“Polisieversterkings is onmiddellik ingeroep. Spesiale polisie-eenhede sowel as vrywilligers van buurt- en plaaswagte het by die soektog aangesluit.”

Inwoners het ook hul private hommeltuie ingespan in pogings om die verdagtes aan te keer.

Volgens Poje is al drie mans vir ernstige misdade soos moord en roof met verswarende omstandighede in aanhouding. ʼn Klag van ontsnapping uit wettige aanhouding is ook nou teen hulle gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

SAPD!!! “I rest my case!!!!”

Swerwer

En ons moet dit glo. Asseblief, die SAPD moet almal beslis gehoor toetse ondergaan

Juffrou

Dis ń wolhaarstorie dié. Dié binne die bestuurderskajuit hoor niks? Voel niks? Ruk. Pluk. Stamp. Niks agtergekom toe dié 3 uitspring? Sien niks? Ag nonsens man.

Misky

En niemand hoor niks nie? “kragdadig oopgemaak” gaan mos ‘n hengse paar harde slae wees en hoe hoor hulle niks nie en dan uit bewegende voertuig spring…… nee wat julle ouens, sukkel om die storie te glo

Kobus

Maw, SAPD ag dit nie nodig om gevaarlike misdadigers te boei nie? Wat ‘n grap. Hoed sal seker weer op TV nuus alle misdadigers waarsku dat hulle met die ” gereg ” te doen sal kry. Ha ha ha!