Drie gevangenes is Sondag tydens ʼn klopjag by die St Albans-gevangenis in Port Elizabeth beseer.
“Vier gevangenes het ʼn beampte se klere gegryp en hom aangeval,” het Manelisi Wolela, ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Maandag in ʼn verklaring gesê. “Van die ander mede-gevangenes het die beampte getakel en hy moes sy knuppel gebruik om die situasie onder beheer te bring.”
Drie van die gevangenes is beseer en word in die gevangenis se kliniek behandel. Die beampte is nie tydens die voorval beseer nie.
Nadat die betrokke gevangenes aanvanklik geweier het dat hul sel deursoek word, is versterkings ingeroep waarna die beamptes beslag gelê het op ʼn skêr, drie skerpgemaakte borde, drie messe, ʼn skerpgemaakte vurk, ʼn selfgemaakte mes, ʼn skroewedraaier, ʼn slot wat aan ʼn tou vasgemaak is, en ʼn selfoon.
Volgens Wolela het 108 van die 408 gevangenes ná die klopjag op ʼn eetstaking gegaan. Alle besoeke van die publiek en families is tot verdere kennisgewing opgeskort.
“Klopjagte word by alle gevangenisse uitgevoer om van alle verbode items ontslae te raak,” het Wolela gesê. – SAPA
Lees ook:
Klag van tronkmarteling by MRK ingedien
Tronkgeweld: 2 dood, 65 beseer
Groot bohaai word opgeskop oor die Becker-vent weer met ‘n selfoon betrap is, en nou, hierdie spulletjie sit met wapens wat die dood tot gevolg kan hê. Gaan hulle ook Kokstad toe gestuur word, voorreg van besoeke en selfoonoproepe opgeskort ?
Gelukkig vir die beampte kon hy homself verdedig teen die aanval.