Geveg broei tussen Ramaphosa en Zuma-aanstellings by NVG

Jacob Zuma toe hy nog president was en Cyril Ramaphosa, destyds adjunkpresident. (Foto: GCIS)

’n Geveg soos min broei in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tussen pres. Cyril Ramaphosa aan die een kant en omstrede senior aanstellings wat oudpres. Jacob Zuma kort voor sy bedanking in die vervolgingsgesag gedoen het aan die ander kant.

Die dagblad Business Day berig die komende hofsake is die eerste sigbare tekens van die terugvegpoging teen Ramaphosa se pogings om die NVG te hervorm nadat dit onder die Zuma-bewind en die bestuur van adv. Shaun Abrahams baie statuur ingeboet het.

Twee omstrede senior amptenare wat in die laaste twee weke van sy ampstermyn deur Zuma aangestel is, te wete adv. Raymond Mathenjwa, provinsiale direkteur van openbare vervolging in Mpumalanga, en adv. Ron Mncwabe, provinsiale direkteur van openbare vervolging in die Noord-Kaap, se aanstellings is deur Ramaphosa teruggetrek, en nou wil hulle die president dwing om hulle opnuut aan te stel.

Volgens die presidensie het Zuma nie die korrekte prosedure gevolg met die aanstellings nie en het Ramaphosa dit gevolglik gekanselleer. Die presidensie is oorgehaal vir die komende hofstryd.

Mathenjwa is spesifiek omstrede. Hy was deel van die span wat ’n jarelange stryd teen die voormalige senior staatsaanklaer, adv. Glynnis Breytenbach, gevoer het. Hul aanklagte is uiteindelik as ongegrond bewys en Breytenbach is vandag ’n DA-parlementslid.

Nog iemand wat wil hof toe gaan, is die voormalige waarnemende hoof van die litigasie-eenheid vir prioriteitsmisdade in die NVG, adv. Torie Pretorius, wat betrokke was by die pogings om die destydse minister van finansies, Pravin Gordhan (tans minister van openbare ondernemings), te vervolg op aanklagte van bedrog.

Daardie pogings is sedertdien laat vaar en Pretorius is aangestel as spesiale direkteur van die eenheid, maar ook daardie aanstelling is teruggetrek. Nou wil Pretorius luidens berigte in die hof gaan baklei vir die behoud van sy aanstelling in die pos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Hulle het aangejaag maar wil nog hulle poste behou? Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Die storie is vir my skeefgetrekte humor

marous

Die staatsdiens was altyd ‘n instansie wat bitter min betaal het , maar voordele soos medies , pensioen en dalk behuising subsidie ingehou het . Blink leef was glad nie beskore vir amptenare nie . Vandag trap hulle mekaar stukkend om in te kom , want dan kan jy hande op biljoene van die belastingbetaler le en soos konings leef . Alles vals natuurlik , maar wie gee om ? Dis die waarheid.

Ja swaer

Mooi so, uiteindelik word Torie Petoors weggejaag, hy is al so muf soos drie jaar terug se ou hondekos

Gert van Wierdapark

Die drie misketeers hoop om hul joppie terug te kry. Ek reken hul gaan in hul hoop trap. Miskien moet hul op Tommy, vorige Sars baas wat dit so opgevoeter het, se skouer gaan huil!

Jack Sadie

Die mense se arrogansie is verstommend!