Geveg by nagklub lei glo tot jong man se dood

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Carl Schoombie (27) is Woensdag oorlede nadat hy Saterdag met ernstige kopbeserings in ʼn Kaapse hospitaal opgeneem is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê Schoombie het saam met vriende by ʼn nagklub in Claremont gekuier toe ʼn geveg uitgebreek het, maar hy was glo nie daarby betrokke nie en het daarna die klub in ʼn taxi verlaat.

Volgens Van Wyk is die taxi in die rigting van Rondebosch deur ʼn ander voertuig van die pad af gedruk. Die twee insittendes van die voertuig was glo ook vroeër die aand by die nagklub. Die twee het Schoombie en sy vriende glo daarvan beskuldig dat hulle die geveg begin het. Schoombie en sy vriende het glo herhaaldelik gesê hulle was nie betrokke nie, maar is nogtans erg aangerand.

Schoombie het ernstige kopbeserings opgedoen en is na ʼn hospitaal gehaas. Hy is vroeg Woensdagoggend oorlede. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die bestuur van die Tiger Tiger-nagklub, waar Schoombie en sy vriende gekuier het, het intussen gesê hulle is platgeslaan deur die nuus van sy dood. “Die oortreders is vermoedelik dieselfde mense wat uit die klub verwyder is nadat hulle moeilikheid gemaak het.”

Volgens die klub was Schoombie nie by die geveg betrokke nie. “Tiger Tiger het al die beeldmateriaal van kringtelevisiekameras aan die polisie oorhandig en sal op enige manier saamwerk om te verseker dat geregtigheid geskied.” Schoombie was volgens berigte ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Schoombie se broer, Lee, het intussen op Facebook hulde aan sy broer gebring. “My broer, my vriend, my bloed, my mentor vir altyd! Moenie bekommer oor ma, pa en Jade [hul suster] nie, ek sal vir die res van my lewe na hulle omsien. Hulle is in my vesting. Niks in hierdie wêreld sal aan hulle raak nie. Ek is so lief vir jou. Ek kan jou reeds in my hart voel! Ek het nou my en jou krag. Ek is onkeerbaar! Jou nalatenskap sal van vandag af in my voortleef. Ek is lief vir jou!!!”

Enigiemand met inligting oor die voorval, word versoek om konst. Siya Gqamana, die ondersoekbeampte, te kontak by 073 960 9266 of Crime Stop by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sumari

Ek hoop daai mans wat dit gedoen het kom na vore. As julle ‘n gewete het, sal julle dit doen.

Magdalena Pretoria

Liewe familie, my hart gaan uit na julle! Dit was so onnodig v die Jong man om dood geslaan te word. Die skuldiges sal hulle “deel” kry. God slaap nie! Sterkte familie en vriende.

Leeutjie

Drank maak jou groot en sterk en jy kan maar slaan en vloek. Maar more as jy nugter is na so insident, dan wil ek nie jy wees nie… Sit gaan jy sit en jy gaan dit verdien! ‘n Onskuldige jongman het gesterf! Dis verskriklik en ek hoop dat julle wat dit gedoen het baie lank gaan sit! Ek hoop ook dat julle rehabiliteer van julle drinkery want julle lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Een onbesonne daad kan jou lewe ‘n leeftyd verwoes!

Leeutjie

Ek wil net byvoeg dat as dit my seun was sou jy nie geleef het om jou storie te vertel nie! Hierdie pragtige seun is doodgeslaan!

Tina

My hart skiet in stukke as ek hierdie lees. Hierdie geweld as ons kinders uitgaan? 18 dae terug, 5 uur die oggend kry ek ook ‘n oproep, my seun lê in ‘n staatshospitaal, hulle kon my nie opspoor nie, erg aangerand in ‘n nagklub, Presleys. Dit was die langste rit van my lewe, om nie te weet of ek hom in die lykshuis van die hospital of intensief gaan aantref nie, kringtelevisie wys hy dans en die volgende oomblik lê hy in ‘n plas bloed, gebreekte neus, harsingskudding. Gesig onherkenbaar geslaan, vir sy foon??? Wel, dis al wat weg is,… Lees meer »