Geveg dreig oor mynaansoek in biosfeerreservaat

Legare Mining Services beplan om onder meer chroom, kobalt, goud, nikkel en platinumgroepmetale hier te ontgin. (Argieffoto)

AfriForum het vandag kommentaar ingedien om die ontwikkeling van mynbou-aktiwiteite in die Marico Biosfeerreservaat teen te staan.

Lede van die Groot-Marico-gemeenskap het die organisasie ingelig dat daar moontlik gebreke voorkom in die aansoekproses vir omgewingsmagtiging wat namens Legare Mining Services (Edms.) Bpk. deur Singo Consulting behartig word. AfriForum het ondersoek ingestel en as belanghebbende en benadeelde party geregistreer. Die organisasie het ook ’n spesialis aangestel om die assesseringsverslag en omgewingsimpakstudie deeglik te ondersoek.

Die doel van die aansoek is om vas te stel of daar genoeg minerale in die gebied is om ’n ekonomies lewensvatbare myn te begin. Legare Mining Services beplan om onder meer chroom, kobalt, goud, nikkel en platinumgroepmetale te ontgin. Die totale gebied beslaan 1 989 ha, waarbinne Legare Mining Services beplan om 15 boorgate vir prospekteerwerk te sink.

“Ek is gekontak deur lede van die gemeenskap en grondeienaars wat hul misnoeë uitgespreek het oor dié mynaansoek. Ons het ondersoek ingestel en gevind dat die openbaredeelnameproses gebreke toon, asook die aansoek vir omgewingsmagtiging in geheel,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Een van die grootste probleme wat ons opgemerk het, is dat Singo Consulting hul verslag opgestel het met behulp van aanlyn navorsing, vorige studies en algemene kennis van die gebied. Dit is heeltemal verregaande. Die aansoek is boonop in die Brits Pos geadverteer – ’n koerant wat glad nie in die Groot-Marico-gebied verkoop word nie. Dus is die gemeenskap nie oor die aansoek ingelig nie. Sowel AfriForum as ander belanghebbende en benadeelde partye se vrae is nie voldoende deur Singo beantwoord nie.”

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, sê dit is nie die eerste keer wat AfriForum met Singo Consulting te doen het nie. “Die maatskappy was ook betrokke by ’n aansoek vir mynbedrywighede suid van die Nasionale Krugerwildtuin en is van beweerde bedrog aangekla. AfriForum gaan die proses fyn dophou en op aanbeveling van ons spesialis verdere stappe doen. Dit lyk of daar weer ongerymdhede is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Singo consulting is onprofessioneel en verdag. Die eienaar, “Dr Singo” stel net in finansiële vergoeding belang, hy het dit self erken in die Waterberg omgewing. Hul verslae is gewoonlik van swak gehalte en nie PrSciNat afgeteken nie, wat wetlik vereis word.

DIABLO

Ek wonder watter comrades sit ook agter hierdie nonsens???