Gevierde digter sterf

Adam Small en sy vrou, Rosalie. Foto: NB Uitgewers via Facebook

Adam Small en sy vrou, Rosalie. Foto: NB Uitgewers via Facebook

Die Afrikaanse skrywer en digter prof. Adam Small is Saterdagoggend in ʼn ouderdom van 79 oorlede.

Volgens Small se vrou, Rosalie, het Small Vrydag ʼn ingewikkelde operasie ondergaan. Dit is nog nie bekend wat die operasie behels het nie.

Small is op 21 Desember 1936 in Wellington gebore en is een van die belangrikste Afrikaanse verteenwoordigers van die swart stem. Hy is veral bekend vir digbundels soos Kitaar my kruis (1962) en Oos Wes Tuis Bes Distrik Ses (1986) asook toneelstukke soos Kanna hy kô hystoe.

Hy het in 2012 die Hertzogprys vir sy drama-oeuvre en in 2015 ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Huldeblyk uit talle oorde stroom vir Small in.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, het gesê die ATKV onthou Small as die man wat hoewel hy later jare stil geword het, kort voor sy dood sy stilte verbreek het.

“Vir baie jare het Small nooit in die openbaar verskyn nie. Dalk was dit die ‘bitter strewes’ van ander wat hom so seergemaak het dat stilte sy enigste antwoord was, maar Adam Small was ten alle tye ‘van haat ontdaan’,” het Gouws gesê.

“Toe hy uiteindelik sy stilte verbreek het, was daar weer ’n vriendelike, gryskopman wat amper verbaas was dat hy nog onthou word. Vir jonk en oud was daar ’n glimlag en ’n tyd vir ’n geselsie.”

Hy het gesê dit was vir die ATKV ’n groot voorreg om deel te kon hê aan Kô laat ons sing, ’n huldiging van Small as digter, wat nog op 10 Maart vanjaar by die US Woordfees aangebied is onder leiding van die Delta Soetstemme en die Delta Langbroeke. By hierdie geleentheid is Small genooi om self die verhoog te betree. Hy het ’n gedig voorgelees, nie ’n lang toespraak nie.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het namens die stad meegevoel getuig aan Small se familie en vriende.

“Sy afsterwe sal ongetwyfeld ʼn groot leemte in ons land se kulturele en literêre landskap laat,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gwen ·

Het hy hom nie ook teen Afrikaans as voertaan aan die US uitgespreek nie?

Marius ·

Kies maar die regte tyd vir kommentare soos dié. Bietjie gevoelloos sal ek sê.

Lious ·

Small so bietjie van ʼn paradoks, lief vir Afrikaans maar minder ingenome met Afrikaners.
Die ATKV buig so ver agteroor om polities korrek te wees dat dit my walg.

Gwen ·

Marius, daar is geen beter tyd as die huidige nie. En wat skort in elk geval met my vraag? Is dit so of is dit nie so nie dat hy geen liefde vir Afrikaas gehad het as tersiêre voertaal nie? Die ATKV buig inderdaad ver om iemand te vereer wat teen die organisasie se bestaansreg baklei het.

Patrick ·

Rus in vrede prof. Jy was vir ons bruinmense n stem wat roep in die woestyn. Sterkte aan die familie.

Rus in vrede ·

Rus in vrede, legende, jy het my verryk met jou skrywe!

Eliza-beth ·

Sal altyd sy gedigte herlees. Kanna hy ko hystoe – uitstekende toneelstuk. Rus in vrede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.