Gewapende “ANC-lid” glo staatsbeampte

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Die gewapende man met ANC-klere wat tydens onluste in Bekkersdal by afgeneem is, is ʼn staatsamptenaar, het die ANC in Gauteng Maandag gesê.

“Hy is ʼn werknemer van die regering. Wat ons wil weet is hoekom hy ons ANC-beffie aangehad het,” het Nkenke Kekana, ʼn woordvoerder van die party, gesê. “Ons wag vir die uitkoms van ʼn verslag oor die voorval sodat ons verdere kommentaar kan lewer.”

Kekana het gesê die party verwag vandag [Maandag] die uitslag van die die Bekkersdal-verslag van sy tak in die Wes-Rand. “Die verslag handel oor die verkiesingsveldtog in Bekkersdal en wat daar gebeur het. Ons moet die hele veldtog nagaan. Ons is nie ʼn indringer in Bekkersdal nie, ons het selfs takke daar.”

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng het intussen die ANC versoek om dringende stappe teen die man te doen indien hy ʼn lid van die ANC is. “Dit is gevaarlik en roekeloos om ʼn vuurwapen na ʼn openbare politieke byeenkoms te neem nie, en dit is ook teenstrydig met die verkiesing  se gedragskode,” het John Moodey, Gautengse DA-leier, gesê. “Die gedragskode stel dit duidelik dat geen persoon ʼn vuurwapen mag dra of vertoon tydens politieke byeenkomste nie.”

Die DA het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) versoek om die voorval te ondersoek.

Afgevaardigdes van die ANC, waaronder Eric Xayiya, Ntombi Mekgwe, Brian Hlongwa en Mpho Nawa, het Donderdag Bekkersdal besoek as deel van die party se verkiesingsveldtog. Die afvaardiging is egter met klippe bestook en uit die gebied verjaag. Thabang Wesi, ʼn gemeenskapsleier, beweer dat die ANC-afvaardiging se lyfwagte gewapen was. Hy beweer dat hulle op ongewapende inwoners, waaronder skoolkinders, geskiet het.

The Star het Vrydag berig dat “lyfwagte” van die ANC met lewendige ammunisie op inwoners geskiet het. Die polisie het ook ingegryp en met rubberkoeëls op inwoners losgebrand. Mabgwa Xaba, woordvoerder van die ANC se Gauteng-koukus, sê die ANC-afvaardiging het nie lyfwagte gehad nie maar dat die BBP-beskermingseenheid van die polisie hulle vergesel het.

Lees ook:
ANC soek antwoorde oor gewapende man in foto
SAPD swyg oor Bekkersdal-voorval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dan ·

Twak! Die man wat daar in ANC drag gestaan het met ‘n vuurwapen, is nou skielik ‘n Staatsamptenaar. Dus was dit seker (ANC?) lede van die publiek wat op die mense losgebrand het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.