Gewapende bende beroof wagte by kitsbank

Argieffoto

Argieffoto

Die Mpumalanga-polisie ondersoek ʼn saak waar ʼn bende van sowat sewe gewapende mans Sondag drie veiligheidsbeamptes van G4S Security by ʼn kitsbank oorval en van kontant en hul vuurwapens beroof het.

Brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die beamptes is in Tweefontein oorval terwyl hulle besig was om geld in ʼn kitsbank te laai.

“Die wagte is met gewere aangehou en ontwapen,” het Mohlala gesê. “Die aanvallers het een van die wagte gedwing om geldhouers uit die kitsbank te verwyder, waarna hulle hom na die geldwa gedwing het waar hulle ʼn onbekende hoeveelheid kontant geroof het.”

Die verdagtes het die toneel met die kontant en vier vuurwapens in ʼn grys Hyundai verlaat. Dié motor is later verlate in die omgewing opgespoor. Daar is later vasgestel dat die motor in Junie vanjaar in Garsfontein in die ooste van Pretoria as gesteel aangemeld is.

Die polisie het mense met meer inligting oor die voorval versoek om met kol. Obed Ngwenya by 082 565 6417 in verbinding te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.