Gewapende roof by Kolonnade-sentrum in PTA

Kolonnade-winkelsentrum

Kolonnade-winkelsentrum

Die Telkom-winkel by die Kolonnade-winkelsentrum in Pretoria is Dinsdagaand van elektroniese ware ter waarde van meer as R200 000 beroof.

“Twee gewapende mans het die winkel betree en selfone ter waarde van meer as R200 000 gesteel,” het kapt. Johannes Maheso, woordvoerder van die polisie, gesê. “Twee verdagtes het buite die winkel bly staan. Toe hulle al die gesteelde goedere gebuit het, het hulle gevlug.”

Maheso sê geen skote is geskiet nie en niemand is in die voorval beseer nie.

Die winkel se bestuur was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Kolonnade is die sesde winkelsentrum in Gauteng wat die afgelope twee maande deur rowers oorval word. Die bekende Maponya-winkelsentrum in Soweto en Northgate-winkelsentrum in Johannesburg het Maandag onder rooftogte deurgeloop.

Ses mans het op die Maponya-winkelsentrum toegeslaan. Volgens die polisie was twee veiligheidsbeamptes besig om kontant op te laai toe ‘n gewapende man hulle oorval en die sakke van hulle beroof het. ‘n Tweede verdagte het hom by die ingang ontmoet en ‘n skoot gevuur voordat hulle weggehardloop en vier ander mans by hulle aangesluit het.

Twee mans het ‘n selfoonwinkel by Northgate beroof. Die bestuurder is na agter in die winkel gedwing en die verdagtes het geld en selfone gebuit voor hulle gevlug het. Geen skote is geskiet nie. Niemand is beseer nie.

Die iStore by Centurion Mall is op 22 Augustus beroof van elektroniese ware ter waarde van meer as R1 miljoen.

Die iStore by Cresta-winkelsentrum het op 13 Augustus onder ‘n rooftog deurgeloop en een persoon is beseer toe die bende weggejaag het.

Die iStore by The Glen is ‘n paar dae later beroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieks ·

Alles die ANC se skuld. Hul kry nie ons land terug op die pad nie. Misdaad is ons nuwe TROTS.

MARITZA ·

toevallig was ek by Parrots Restaurant , en dat daar wel skote gevuur was, ons dank ons Vader dat daar niemand beseer was nie, maar dat daar wel mense en kinders rond beweeg het.

Johanna ·

Die sekuriteit by Kollonade was nog altyd nie van die beste nie. Ons kinders is ook al daar beroof van duisende rande se kameras en elektroniese toerusting. Die bestuur van die sentrum was ook glad nie hulpvaardig daarna nie. Hulle was nie eens simpatiek nie! Daar is ‘n sindikaat wat in hulle parkeergarage “diens doen” deur met ‘n afstandbeheer te keer dat jy jou motor sluit sonder dat jy dit agterkom. Nie die bestuur of die sekuriteitsmaatskappy by daardie sentrum probeer hierdie bedrywighede stop te sit nie. Hierdie rooftog verbaas my gladnie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.