Gewapende roof by Shoprite: Nog drie vas

Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

Nog drie persone is in hegtenis geneem in verband met ʼn gewapende roof by Shoprite in Randfontein, Gauteng.

“Polisiebeamptes het deurnag gewerk en die inligting het hulle gelei na Sebokeng waar die drie verdagtes Saterdagoggend in hegtenis geneem is,” het kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media gesê. “Die verdagtes is in twee hostelle in die gebied aangetref. ʼn Tweede vuurwapen is in die verdagtes se besit gevind asook goedere wat uit die winkel gesteel is.”

Maroela Media het vroeër berig oor die gewapende roof wat Vrydagaand omstreeks 18:50 by die tak in Duncanweg plaasgevind het.

Ernst het intussen bevestig ongeveer 20 mans het op die winkel toegeslaan.

Van die rowers het die klante en personeel, waaronder kinders, in die winkel aangehou. Die ander groep het die bestuurder gedreig om kontant aan hulle te oorhandig.

Polisiebeamptes van Randfontein het dadelik reageer en het binne minute opgedaag. Die verdagtes het op hulle geskiet en die polisie het teruggeskiet. Twee verdagtes is dood en twee is deur die Wes-Randse blitspatrollie in hegtenis geneem. Die ander verdagtes het van die toneel gevlug.

Die polisie ondersoek ʼn moontlike verband tussen dié klopjag en ʼn rooftog by die Shoprite in Mohlakeng drie weke gelede. “Die polisie versoek die gemeenskap om enige inligting oor dié rowers aan te meld deur Crime Stop te bel by 08600 10111. Die inligting kan anoniem verskaf word,” het Ernst bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Vermetelheid. Blok vanaf polisie. Dankbaar dat geen polisie beseer is

Andre Bence ·

Dit is mos die tipe voorvalle waaroor Amerika, Engeland en Australia gewaarsku het.

Cherokee ·

Amerika, England en Australië het geensins teen rooftogte gewaarsku nie. Jy verstaan nie waaroor dit gaan nie.

Buitestander ·

Dit is amper verkiesing tyd en die geregistreerde ,kanidate benodig geld vir die verkiesingstryd!!!

Dirk ·

Die rovers moes eerder Shoprite se “specials” probeer het. Dit was spot goedkoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.