Gewapende roof: Jong man in koma ná terugslae

Francois Swart. Foto: Verskaf.

Die 21-jarige Francois Swart wat vroeër dié maand tydens ʼn gewapende rooftog herhaaldelik in die nek geskiet is, is in ʼn medies geïnduseerde koma nadat hy die afgelope week ʼn erge terugslag beleef het.

Louis van Rooyen, Swart se stiefpa, het Woensdag aan Maroela Media gesê die gesin het die laaste week op hul knieë deurgebring nadat Swart ʼn hartstilstand beleef het én een van sy longe platgeval het.

Van Rooyen sê Swart is na dié terugslag sedert Sondagmiddag weer in ʼn stabiele toestand.

“Alles staan op die oomblik stil – ons werk en ʼn mens se lewe,” sê hy. “Ons pendel elke dag tussen Pretoria en Johannesburg in die hoop om hierdie nare ding agter ons te sit. Ons het groot geskrik toe hy die terugslag beleef het, maar selfs nou dat hy weer stabiel is, voel ʼn mens verskriklik emosioneel en afgemat. Jy voel leeg. Al wat ons staande hou is almal se gebede en die boodskappe van bemoediging wat ons ontvang.”

Swart is dié week al drie weke in die waakeenheid. Van Rooyen sê dokters moes verlede week ʼn aar in sy nek afbind omdat Swart byna “uitgebloei” het. Sy slukderm, wat volgens die familie in die voorval “afgeskiet” is, is al sowat twee weke gelede afgebind.

“Die infeksie in die wonde het weer teruggekeer,” verduidelik Van Rooyen. “In leketaal kan ek dit so verduidelik: Twee are loop deur die keel na die brein en sirkuleer dan by die brein. Die infeksie in die wond by die nek het een van die are, wat ook gewond is in die skietery, as’t ware aangeval waarna die aar oopgebars het.

“Francois het toe verskriklik erg inwendig begin bloei. Die dokters het geen ander keuse gehad as om dié aar ook af te bind nie, soos ons verstaan het hy nie albei are nodig om te funksioneer nie.”

Dit was ook dié trauma wat hom ʼn hartstilstand laat beleef het, maar Van Rooyen sê ʼn span dokters kon daarin slaag om hom by te bring en vermoed dat hy geen fisieke en permanente skade opgedoen het nie.

Een van Swart se longe het terselfdertyd platgeval. Van Rooyen sê Swart se long het per ongeluk ʼn fraktuur opgedoen toe dokters ʼn suurstofpyp na sy longe probeer deurkry het. “Die hele proses het veroorsaak dat sy borskas ook geweldig baie lug ingekry het, en dié lug moet nou met suurstofpompe uit sy borskas uitgepomp word omdat die longe nie kan funksioneer wanneer die borskas vol lug is nie. Die dokters sê dit gaan onder omstandighede goed met hom, maar dis baie belangrik dat die wond aan die long vinnig herstel.”

Van Rooyen sê Swart is in ʼn medies geïnduseerde koma omdat die gebeure van die laaste paar weke geweldig traumaties vir sy liggaam is. Hy sê dokters meen egter die wond aan die long toon vinnige herstel, en dat sy bloeddruk en suurstoftellings ook ʼn positiewe aanduiding van sy herstelpad gee.

Francois Swart. Foto: Verskaf.

Hy is vol lof vir weldoeners wat op ʼn Facebook-plasing gereageer het en bloed by die hospitaal gaan skenk het nadat die hospitaal ʼn groot bloedtekort gehad het.

“Ons is tussen die seer baie dankbaar,” sê hy. “Dit lyk asof sy liggaam weer die normale funksies begin oorneem. Ons wil nou net hê hy moet op en wakker wees en ten minste met ons kan gesels. Hoe lank hy nog in die koma en in die waakeenheid gaan wees, is nie duidelik nie. Daarom bid ons, dis ál wat ons in dié stadium kan doen.”

Swart is die bestuurder by die plaaslike Spur-restaurant in Lichtenburg in Noordwes. Maroela Media het vroeër berig hy het op 9 Mei omstreeks 01:00 ná werk saam met ʼn kollega gaan koeldrank koop by ʼn nabygeleë Shell-vulstasie toe die voorval plaasgevind het.

In die winkel was twee mense besig om met die man agter die toonbank te argumenteer toe een van die mans skielik ʼn gaspistool teen Swart se nek gehou en drie skote afgevuur het. Die man agter die toonbank het gevlug en die polisie ontbied.

Swart en sy kollega is van hul selfone en motorsleutels beroof en die verdagtes het met die vriend se motor van die toneel gevlug. Die motor is sedertdien teruggevind, asook een van die selfone wat tydens die voorval gesteel is.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die polisie is steeds op soek na een van die verdagtes.

Dit kom nadat die ander verdagte, Jude Nnana Aghabanti (42), vroeër die maand in die Lichtenburg-landdroshof verskyn het. Aghabanti is aanvanklik deur die polisie se honde-eenheid in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, maar daar is later vasgestel dat hy ook met die skietvoorval verbind word. Hy is steeds in polisieaanhouding.

Meer inligting oor die ondersoek is nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Piet Pompies ·

Elke knie sal buig, elke mond sal bely, God is met ons. Ons bid vir hierdie mens se herstel.

So onnodig ·

Dit is sooo onnodig, liewe seun en gesin, jul is ons gebede.

Siek en sat ·

Hierdie WAS onnodig. Wat die misdaad in hierdie land betref het ek heeltemal genoeg gehad. Ek glo hierdie pragtige jong man sal gesond word. Prys die Here.

Vra maar net ·

Ek glo ook die seun sal ‘n lewende getuienis wees.

Maar daar is iets wat ek al lank oor wonder. Wanneer daar se maar 3 rowers is en 1 kom weg. Die polisie het dus 2 gevang, kan dié 2 dan nie uitlap waar die ander verdagte moontlik kan wees nie. Of hoe besluit die klomp om saam misdaad te pleeg.
Wonder maar net oor die sakie.

Skokkend ·

Net nog ‘n ONSKULDIGE wit jong man wat aan die hand van KRIMINELE in SA moet ly. Ons bid vir jou herstel want niemand in die regering gee ‘n duit om nie. Ons bly mos in ‘n veilige land met wetsgehoorsame burgers. Ons weet ALMAL wie die MEESTE rowers/moordenaars is . hou op om dit weg te steek.

Niggie ·

Hi julle. Ek wil net vir almal wat vir my neef bid, baie dankie sê, ons waardeer elke gebed opreg baie. Mag die Here julle elk een tot in oorvloed seën!

Ons het almal baie vra…
Ons wil almal graag weet hoekom dit moes gebeur het?
Hoekom kom die skuldiges weg met dit?
Hoekom is die onskuldige mense wat alles in hulle lewe so ver as moontlik wil reg leef, die slagoffers?

Sterk wees my neef!! Baie mense bid vir jou, met die Here se hand onder jou sal jy weer op jou voete staan en jou getuie vertel vir die wêreld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.