Vyf persone is Sondag in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog by ʼn Ackermans-winkel in Heidelberg, Gauteng.
“Sewe verdagtes het die winkel net voor sluitingstyd betree,” het kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, gesê. “Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en ʼn personeellid gedwing om hulle te wys waar die kluis is.”
Die verdagtes het selfone, klere en ʼn onbekende hoeveelheid kontant gebuit.
“Die polisie is dadelik ontbied en hulle het twee verdagtes agterna gesit,” het Tshilate bygevoeg. “Vyf verdagtes, tussen 28 en 36 jaar oud, is uiteindelik in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op ʼn Norinco 9mm-pistool, ʼn gedeelte van die kontant, ʼn wit Toyota Quantum, selfone en klere.”
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Heidelberg-hof verskyn.