Gewapende rowers bring Kaapstad-snelweg tot stilstand

Argieffoto van 'n AK47 Foto: cheechi, Pichost

Argieffoto van ‘n AK47 Foto: cheechi, Pichost

Die verkeer is Dinsdag op die R300-snelweg net buite Kaapstad tot ʼn stilstand gebring toe mans, wat glo met AK47’s gewapen was, probeer het om ʼn kontant-in-transito-voertuig te beroof.

“Verskeie skote is gevuur toe die bende van vier mans probeer het om die voertuig net voor die N2 te beroof,” het kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, aan News24 gesê. “Geen beserings is aangemeld nie, slegs skade aan die transitovoertuig.”

Een getuie het gesê hy het vier motors links van die pad sien staan en drie aan die oorkant van die pad. Hy beweer die persone het met AK47’s oor die snelweg gehardloop en op die transitovoertuig geskiet.

Van Wyk het gesê hulle ondersoek bewerings dat AK47’s gebruik is.

Die verkeer is baie erg ontwrig op die R300 en omliggende paaie as gevolg van die misdaadtoneel. Talle persone het op sosiale media gesê die verkeer het op die nabygeleë Vanguardrylaan tot ʼn stilstand gekom.

“Die verdagtes het te voet gevlug en geen kontant is gesteel nie,” het Van Wyk bygevoeg.

Bron: Lauren Hess, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Dit lyk of die geldwa ingewag is. Daar was dus té veel inligting bekend van die beweginge en roete vooraf. Natuurlik moes ‘n selfoon ook moontlik die presiese tyd kon gee vir die rowers. Ekskuus. ‘verdagtes’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.