Gewapende rowers slaan op stadion toe

Die Nuweland-krieketstadion in Kaapstad. Foto: ANA

Gewapende rowers het die afgelope naweek op die Nuweland-krieketstadion in Kaapstad toegeslaan, het die Westelike Provinsie Krieketvereniging Woensdag gesê.

“Gewapende rowers het die Nuweland-krieketstadion net na middernag Vrydag binnegegaan,” het die vereniging in ʼn verklaring gesê. Volgens die vereniging was dit die derde keer sedert 2015 dat rowers die stadion geteiken het, maar die eerste keer dat die verdagtes gewapen was.

“Die glasdeure van omtrent 25 suites is stukkend geslaan en die rowers het die televisies geteiken en ook drank en ander items uit die suites gesteel. Van die suites is ook gevandaliseer.”

Luidens die verklaring het ʼn vrou voor die rooftog veiligheidswagte genader en gevra vir aanwysings na ʼn kerk. Sy het later teruggekeer met drie mans wat oor die veiligheidshekke gespring het. 15 ander verdagtes het later by dié vier mense aangesluit.

“Sommige van hulle het vuurwapens gehad en het die veiligheidswagte gedwing om hulle die sleutels na die ikoniese presidensiële suite te gee. Die rooftog is in minder as ʼn uur afgehandel, hulle het die goed in drie voertuie gepak en het van die toneel gevlug.”

Volgens die vereniging is die veiligheidswagte ongedeerd en sal hulle berading ontvang.

“Die SAPD is besig met ʼn uitgebreide ondersoek na die voorval en ons sal ook ons veiligheidsmaatreëls hersien, insluitend die moontlikheid om nog kameras te laat installeer,” lui die verklaring.

“As ʼn vereniging is ons ontsteld oor hierdie rooftog en sal ons ons bes doen om die polisie by te staan om agter die kap van die byl te kom en te probeer verhoed dat so iets weer gebeur. Ons sal ook ernstig daarna kyk om binne ons begrotingsbeperkings ons veiligheid by die stadion op te skerp.”

Die rooftog by die Nuweland-stadion kom net meer as ʼn week nadat die derde toets tussen Suid-Afrika en Australië daar plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wilma ·

Me Sisulu. Wat is jou kommentaar oor die misdaad in n wonderlike demokratiese land?

Genoeg gehad ·

Madam Sisulu dis darem n wonderlike land die. Almal en alles veilig hier.

Van ·

Die ‘veiligheidwagte’ moet dalk eerder opleiding as berading ontvang.

Pieter ·

Dit is nou n free vir all die skelms kapitaliseer omrede die polisie so useless is al wat hulle doen is ondersoek en daarvan kom ook nooit niks kry hulle nie skaam daar was n tyd wat kinders trots was as hulle pa n polisieman was maar nou dink ek dis n verleendheid.

Mare ·

Die buurtwag sal moet begin om die area ook te patroleer terwyl die blou uniforms iewers lê en slaap of wat hulle ookal doen ,ons weet nie wat nie maar is verseker nie hulle werk nie.

Gert ·

Misdaad moet n lonende beroep wees met die afwesigheid en samewerking van die polisie.

Foefenjol ·

Ek is seker dis die werk van ‘n klomp “wit rassiste “…

SjN ·

Hulle wou die aand wedstryd gaan kyk het maar was te laat en reeds verby

Elsa ·

Sekuriteite en polisie moet sigbaar wees…oral, wat verstaan julle nie?

Haibo ·

Wetsgehoorsame burgers .. seker agv apartheid dat hulle die goed steeds doen .. seker honger en dors gewees.

gustav barkhuysen ·

vandag is jan van riebeeck dag. dit was seker sy skuld gewees .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.