Gewapende rowers slaan toe op Bloem-vulstasie

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in die Vrystaat is op soek na gewapende rowers wat Maandagoggend vroeg toegeslaan het op ʼn vulstasie in Fleurdal, Bloemfontein.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, het gesê die swaar gewapende mans het die vulstasie bestorm. Hulle het klapmusse aangehad en springstof gebruik om ʼn kluis op te blaas.

“Hulle het ʼn onbekende bedrag kontant gebuit wat in die geldboks was,” het Marope gesê. “Drie van die verdagtes was glo met AK47’s gewapen en die ander twee met pistole. Die mans het na bewering by die winkel van die vulstasie in Fleurdal ingestorm.”

Twee werknemers is met vuurwapens gedreig en is gedwing om op hul knieë te staan.

Die mans het in ʼn goudkleurige Mercedes-Benz, wat nie enige nommerplate gehad het nie, gevlug.

Geen skote is geskiet nie en niemand is beseer nie.

“Enigiemand met inligting word versoek om die naaste polisiestasie of Parkweg-polisie by 051 507 6000 te kontak,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakes ·

Eerstens “inside job”- want niemand geskiet!!!
Modus operandi is terrorisme as wapens en plofstof in ag geneem word…?
So..wies betrokke, Tempebasis of Parkwegstasie.?
My wapenhandelaar verkoop níe daardie benodighede…

m ·

Hier is beslis sindikaat doenig in Bloemfontein. Hierdie outjies is baie bedrywig hier….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.