Gewapende rowers slaan toe op lekkergoedwinkel in Centurion

Die toneel Woensdagoggend buite ABC Sweets. (Foto: Verskaf)

“Ons het by die deur ingekyk en iemand op die grond sien lê. Die verdagte met die geweer was by die kasregister.”

Só vertel Roelan Pretorius nadat hy Woensdagoggend aanskou het hoe twee verdagtes, van wie een gewapen, omstreeks 09:15 op die ABC Sweets-lekkergoedwinkel in Centurion toeslaan.

Pretorius werk in ’n kantoor reg langsaan dié lekkergoedwinkel in Swartkop.

“Ons was in ons kantoor toe ons ’n skoot hoor. Dit het geklink of iemand ’n groot boks laat val. Daar word aan nog kantore in die sentrum gewerk en ons het gedink iets het net geval.”

Eers toe hulle ondersoek ingestel en twee mans in sekerheidsuniforms in die sentrum gewaar het, het hulle egter onraad gemerk.

“Die een verdagte met die geweer het ingegaan en die ander het hul motor in die parkeerterrein gaan haal. Hy het vir ons gesê om in die lekkergoedwinkel in te gaan. Ons het by ons kantoor ingehardloop en die deur gesluit voordat ons in die kombuis gaan wegkruip en die polisie gebel het.”

Pretorius het aanvanklik wel gesien hoe iemand op die vloer van die lekkergoedwinkel lê. Sover hy weet, is niemand in die voorval beseer nie. Die twee verdagtes is wel na bewering met kontant uit die kasregister vort.

Volgens Pretorius is nooddienspersoneel vanoggend na die sentrum ontbied om slagoffers ten tyde van die rooftog binne-in die winkel vir trauma te behandel.

Dit is nie duidelik of die verdagtes sedertdien in hegtenis geneem is nie.

Die betrokke polisiewoordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Patch ·

Bedrywig in Centurion…17 Oktober was dit by ‘n winkel in Blue Valley Mall en nou hierdie. Selfde groep?? Nie onmoontlik

Room ·

Hehe, lekkergoed daar is nogal duur, R60-70 vir die goedkoopste houer? Neem hul nie kwalik, alhoewel hulle seker nie hulle beroof vir die lekkergoed nie

Of nie ·

sjoe dan was jy seker lanklaas daar – het juis die naweek daar gaan shopping doen vir baie minder geld per pak as wat jy van praat :( Hoop die mense is ok wel dit kan nie n lekker ervaring wees nie

Bert ·

Verstaan ek dit reg Room? Jy neem die rowers nie kwalik nie?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.