Gewapende rowers slaan toe op lughawe

Die lughawe in Port Elizabeth. Foto: ANA

Twee gewapende rowers het Dinsdagoggend vroeg veiligheidswagte by die Port Elizabethse lughawe met vuurwapens aangehou voordat hulle met ʼn onbevestigde bedrag kontant op die vlug geslaan het.

Die rooftog het glo by die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa) se kantoor oorkant die Wimpy-restaurant plaasgevind.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê twee werknemers was omstreeks 05:30 besig om geld uit die kaartjiemasjiene by die lughawe te haal toe hulle van die kontant en hul selfone beroof is. Naidu het nie bevestig hoeveel geld gesteel is nie.

“Twee verdagtes, wie se gesigte bedek was, het die werknemers in die veiligheidskamer ingestamp waarheen hulle die geld geneem het en het vuurwapens op hulle gerig. Die verdagtes het in ʼn voertuig van die toneel gevlug,” het Naidu gesê. Geen skote is tydens die voorval afgevuur nie.

Daar word verneem die veiligheidswagte het binne-in die stoorkamer teen die deur geslaan en om hulp geroep. ʼn Lid van die publiek het glo die hulpkrete gehoor en ander veiligheidswagte geroep om te kom help.

ʼn Saak van sakeroof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

Ek se ook dis ‘n inside job. Hoe het hulle geweet daar is geld en hoe loop die mense se roetine?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.