Gewapende rowers teiken pendelaars in bus

(Argieffoto: ANA)

ʼn Groep pendelaars is erg geskok nadat vier gewapende mans hulle tydens ʼn busrit beroof het.

Die Golden Arrow-bus was kort voor 06:00 Dinsdag van Kaapstad na die Steenberg-stasie op pad. Vier mans het hulle glo as passasiers voorgedoen en in Mowbray opgeklim.

Hulle het die busbestuurder en pendelaars met wapens aangehou en hul persoonlike besittings en selfone gesteel, maar kon ten minste nie die agterste passasiers bereik voor hulle weer by Claremont afgeklim het nie.

Die busbestuurder het direk na die Claremont-polisiestasie gery om die voorval aan te meld.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van gewapende roof word ondersoek.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bronwyn Dyke-Beyer, woordvoerder van die Golden Arrow-busdiens (GABS), sê niemand is in die voorval beseer nie.

“Golden Arrow is diep bekommerd oor die onbeskaamde misdadigers wat ons busbestuurders en -passasiers teiken. Ons stel tans ʼn langtermyn-wetstoepassingseenheid in samewerking met die stad en die provinsie saam, wat GABS sal help finansier.

“Ons werk nou saam met die wetstoepassers wat betref sake wat reeds aanhangig gemaak is, asook die inwerkingstelling van stop-en-deursoekingsoperasies,” het Dyke-Beyer gesê.

Die busdiens het intussen ʼn beloning van R50 000 beskikbaar gestel vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verdagtes lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie J ·

Intussen is die polisie, per instruksie van hoedman, kliphard besig om branderplankryers te arresteer!

Jr ·

Waar’s die glorified kar wagte ( polisie) – Cele’s se narre? OP DIE STRAND.!!!!

Samuel ·

Hoedman se karwagte sal nie op die strand wees nie; te winderig. Drink seker koffie. Misdaad is erg en moet op een of ander manier gestop word, maar hoe?

Toni ·

Dis die 5de bus in 2 weke. Almal deur 4 swart mans met 2 gewere (guns). Verlede week was dit die Delft, Electric City en Mitchell’s Plain bus. Maandag was dit Blackheath bus en Dinsdag die Steenberg bus. In die Blackheath bus het die drywer gese hy ken die een persoon want hy was ‘n Golden Arrow drywer. Hy was gevra om by die polisiestasie te stop maar hy wou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.