Geweld in hospitale: ‘Só kan dit nie langer aangaan’

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) in KwaZulu-Natal sê die veiligheid van sy lede, ander gesondheidswerkers, die publiek en pasiënte kan nie onderbeklemtoon word nie en maatreëls om mense te beskerm moet dringend verskerp word.

SAMA het sy kommer uitgespreek nadat ʼn pasiënt verlede week op teregstellingswyse by die Clairwood-hospitaal in Durban geskiet is.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het Vrydagaand ten aanskoue van ander pasiënte en verpleegpersoneel plaasgevind. Gewapende aanvallers het oënskynlik tot op die hospitaal se perseel gery, sonder dat hulle deur enige sekerheidspunte moes gaan.

Die pasiënt is doodgeskiet, waarna die aanvallers die veiligheidswagte, wat intussen die hospitaal se deure gesluit het, gedwing het om dit weer oop te sluit sodat hulle kon vlug.

“Die wrede bende-tipe moord by die hospitaal laat groot kommer ontstaan oor veiligheid by die instelling, omdat geen wapens dit in die eerste plek verby die veiligheidspunte moes gemaak het nie.

“Ons moet vra hoe veilig is ons gesondheidsorginstellings en dus ook ons pasiënte en gesondheidswerkers,” het dr. Zanele Bikitsha, voorsitter van SAMA in die provinsie, gesê.

Sy het gesê die vereniging het reeds die voorval met die provinsiale gesondheidsdepartement opgeneem. Hulle eis onder meer dat die diensooreenkoms tussen die departement en ʼn veiligheidsmaatskappy afgedwing word terwyl daar gewag word vir die aanstelling van ʼn nuwe diensverskaffer.

SAMA vra ook dat brandpunte in misdaadgeteisterde gebiede geïdentifiseer word en dat nouer met die polisie saamgewerk word.

“So kan dit nie langer aangaan nie, met ʼn situasie waar werkers onderwerp word aan onveilige werksomstandighede, terwyl hulle ʼn noodsaaklike gesondheidsdiens aan die provinsie se mense probeer verskaf,” het Bikitsha gesê.

Die vereniging vra dat die toeken van ʼn nuwe tender vir veiligheidsmaatreëls so gou moontlik afgehandel word, en dat die ondersoek na bewerings van ongerymdhede met die toeken van die vorige tender, prioriteit geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna Botha ·

Wonder hoe dit sal gaan as dit eers NGV is en omgekoop mense n blinde ook sal gooi

Nikolaas ·

Ek was nog by geen hospital in wat nie n plakker op die ruit het wat aantoon dat vuurwapens binne die perseel verbode is nie.
Duidelik hou wapen vrye areas nie mense veilig nie.

Julius ·

Hierdie goed gaan net meer gebeur. Want bendes word meer by die dag wees werkloosheid. Selfs die sekuriteit is deel van bendes.

Daleen Erasmus ·

Ek werk in n hosp en dis ni veilig ni. Dis maklik om in te kom en sekuriteit het net knuppels en is jong meisies

Wielspore ·

In SA skep ons kunsmatige veiligheids sones, huise, winkel sentrums, hospitale en staats geboue omdat misdaad en geweld nie onder beheer is. Sodra geweld in die sogenaamde kunsmatige veiligheids sones plaasvind word daar ‘n groot hoe-ha daarvan gemaak terwyl ons as landsburgers elke dag daaraan blootgetsel word en ons self die kostes moet dra om ons eiendom veilig te maak.
Die probleem is misdaad en die regering se gebrek om dit te beheer.

HC ·

Dan sê CR vir wereld ons land is skynheilig en geen geweld nie

John ·

Cyril glo hy is gelykstaande aan ‘n eerstewèreldleier van ‘n ryk vooruitstrewende land en hou grootse toesprake daarvolgens so al asof beleggers nie tv’s of rekenaars het om te sien wat hier aangaan nie. Die prez leef in ‘n pienk borrel. Hierdie land is ga-ga en gevaarlik. Vra die eerstewèreldtoeriste. Ontkenning volg gewoonlik na ‘n groot ramp. Die ramp is met ons.

Anni ·

Ek werk daagliks waar daar abnormale pasient is, hul is in gewone saal en mag ni toegesluit word ni, want hul mut as normaal behandel word. Loop op gronde rond. Dit is Maar jou hospitaal bestuur Wat verantwoordelik is vir Al hierdie gud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.